Blog

Digitale kerk of digitale gehoor? Meer as net retoriek.

 22 Apr 2022  Dr Johan Lötter   Verbi Divini Minister

Ek onthou nog met die eerste lockdown hoe ‘n klomp van ons op ons eie uitsendings reageer het: “Ek sien nou eers my aaklige maniërismes raak wat my grensloos irriteer”. Iemand anders het weer gesê: “Ek is op vir die gesiglose kamera” en nog iemand voeg by: “Kry ons nie ook beligting en grimering nie, want wraggies ek is nie ‘n mooi prentjie om na te kyk nie”. Skielik, ná twee jaar, het dinge verander. Menige gemeentes is weer terug na amper normaal, sommige makrogemeentes kry hulle lidmate nie weer terug in die kerk nie en nou is daar teoloë wat praat van digitale kerk en digitale lidmate. Hoewel ek baie simpatie met predikers het en begrip vir hulle toewyding in moeilike omstandighede, wil ek graag ‘n paar feite oor digitale kommunikasie en ‘n nuwe vorm van kerk op die tafel plaas.

Ek moes tydens my nagraadse studies krities gaan kyk het na die effektiwiteit van die deduktiewe monoloog teen die agtergrond van digitale kommunikasie as een van die talle redes waarom belangstelling in die prediking begin degenereer het.    

Ons moet heel eerste weet dat digitale kommunikasie ook ‘n nuwe kultuur laat ontstaan het en hierdie kultuur het nie meer ‘n voorkeur vir instansies soos die kerk en die gesag van leraars se kennis van bo af nie. Hierdie kultuur het nog minder ‘n aptyt vir deduktiewe monologiese kommunikasie. 

Die impak van digitale kommunikasie op die gebied waar monoloë gebruik word om kennis of informasie oor te dra, is soos om deur ‘n orkaan getref te word. As ons doodeerlik met onsself wil wees, sal ons almal erken dat ons nie meer lang stories op slimfone en e-posse volg nie. Ek lees nie lang boodskappe nie en nog minder volg ek ‘n monologiese preek van langer as tien minute. 

Ek deel graag ‘n paar gevolgtrekkings waartoe ek gekom het:

Die afname in godsdiens en die degenerasie van die kerk (en veral die prediking) is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Die mense wat voor die inperkings sku was vir die kerk, is nog net so sku. Ek is wel van mening dat eredienste tuis net nog meer mense oor die drumpel van skuldgevoelens gestoot het. Ons weet ook dat ná die grendelperiode meer jonger mense met kinders wegbly as ooit vantevore.

Die era van monologiese deduktiewe oorreding is verby, maak nie saak hoe grand ons hierdie boodskappe in digitale formaat verpak nie. Daar is geen wetenskaplike empiriese navorsing wat die langtermynsukses van digitale kerk en lidmaatskap bevestig nie. 

Een ding is seker en dit is dat die roeping van Christenskap meer is as retoriek of om toeskouer en ontvanger van preke te wees. Die kerk maak konkrete bydraes op verskeie terreine in die markplein, maar dit vra meer as net mond en ore. 

Die gerief van kerk by die huis het ook menige gemeentes nou in ‘n diep finansiële moeilikheid.

Ongelukkig maak digitaal mense ook gemaklik en selfgesentreerd.

Die Christologie sal altyd hoor en doen omhels. Die uitdaging om by die digitale konteks aan te pas, is ‘n kuns wat ons nog nie bemeester het nie. Die mens sal nooit so aanpas dat konkrete verhoudings en ander sosiale aktiwiteite verdwyn nie. Die post-pandemie daag ons nie net uit om tegnologies verantwoordelik te wees nie, maar ook ecclesiologies vernuwend, veral op die gebied van die prediking en die geloofwaardige beleef en uitleef van die Christelike spiritualiteit as iets meer as net retoriek.

Meer as ooit vantevore moet die kerk hard werk aan verhoudings en hoe om Christus uit te beeld sonder kontrole en uitgediende voorskrifte.