Blog

Digitale bediening ná Covid

 1 Jul 2022  Dr Johan Lötter   Verbi Divini Minister

Met ‘n vorige skrywe het ek teen die gebruik van die woord digitale kerk geargumenteer. Elke leraar en gemeente moet die saak vir hulleself uitmaak, maar ek is oortuig dat ons eerder van digitale bediening moet praat. Op akademiese vlak sal ‘n mens die skrif redelik moet verdraai om die konsep van digitale kerk Bybels te fundeer. Die meeste gemeentes het steeds voltydse leraars en het steeds elke Sondag ‘n erediens, Bybelstudies en al die ander handelinge wat van hulle gemeente tasbare kerk maak. Die wat steeds uitsaai, het ‘n digitale bediening met ‘n digitale gehoor. 

Dit is nou reeds ‘n geruime tyd wat ‘n mens terug is na selfs ‘n maskervrye-omgewing. Menige gemeentes se leraars is verlig, maar helaas lyk dit of ons erediensbywoning ‘n dubbele knou gekry het. Aan die een kant hard getref deur die pandemie en aan die ander kant hard getref deur digitale bediening. Daar is baie sosiologiese navorsing oor die sogenaamde dark side van die digitale media en ek moedig ons lesers aan om meer hieroor te gaan naslaan op die internet. 

Kom ons gesels dié keer oor digitale bediening en die pad vorentoe. Voor die pandemie was daar reeds meer as 200 000 Christelike preke op YouTube. Ná die pandemie: 100 000 000.  Daar is om en by 2.3 biljoen Christene in die wêreld. Hierteenoor lyk dit of tasbare Christelike byeenkomste sukkel om weer op die been te kom. 

Wanneer ‘n mens digitale uitsendings koppel aan hoeveel mense jou boodskap besoek het, dan blyk dit dat gewilde Engelse predikers uit die VSA maklik tussen een en drie miljoen besoeke per boodskap kry. Dit blyk ook dat gewildheid gekoppel is aan predikers wat reeds voor die pandemie bekendheid verwerf het deur middel van byvoorbeeld TV en boeke. Daar is ook ‘n afname in besoeke voor die pandemie en ná die pandemie, waarskynlik as gevolg van die massiewe toename van Christelike boodskappe sedert die pandemie. Wat ons eie taal betref blyk dit min of meer dieselfde pad te loop. Predikers en denominasies wat voor die pandemie baie gewild en aan die publiek bekend was, ontvang meer besoeke as selfs predikers van makro-gemeentes. Daar is ook ‘n duidelike korrelasie tussen goeie tegnologie soos beeld, klank, redigering (aanbieding) en die hoeveelheid besoeke wat die boodskappe geniet.

Jy moet ‘n Joel Osteen of Joyce Meyer wees om drie miljoen besoeke per uitsending te bereik.  In Suid-Afrika geniet predikers soos Andries Enslin ná ‘n enkele preek op YouTube, vier jaar gelede, so 43 000 besoeke en Andries Vermeulen se humoristiese stories oor dieselfde periode so 1.3 miljoen kyke. Andries Vermeulen se besoeke is amper dubbel die getal belydende lidmate wat in die NG Kerk oor is.

Menige gemeentes spandeer duisende rande aan live streaming en die persentasie mense wat dit lewendig kyk is baie min. Na ’n week of twee styg die kyke na heelwat meer. Dit blyk dat die grootste persentasie mense nie ‘n volledige erediens wil volg nie en fast forward die uitsending tot by die preek en stop dan ook net ná die preek.

Die digitale mark vir Christelike boodskappe is divers. Ek is van mening dat ons kleinste mark die mense is wat na eredienste wil kyk. Daar wag nog ‘n reuse mark daarbuite, maar dan sal ons iets anders moet begin doen as net om eredienste op te neem. Die era van die monologiese deduktiewe preek het reeds lank voor die pandemie begin degenereer. Dit help nie ons saai steeds met hierdie styl uit nie. Ek sien uit na die pad vorentoe, veral om die nuwe generasie te bereik.