Blog

Die wêreld van idees

 30 Jul 2021  Prof Laetus Lategan   Dis ‘n Ring-ding

Sedert Maart 2021 is ek as tentmakerleraar verbonde aan die NG Kerk Bloemheuwel waar ek reeds 26 jaar lidmaat is.

Ek het doelbewus ‘n akademiese loopbaan gekies omdat ek soos my professore die wêreld van idees wou verken, maar ook aangespoor was deur oortuiging dat die Christelike geloof ‘n verskil aan die wêreld kan maak. Ek het daarom altyd vasgehou aan die belangrikheid van integriteit en ‘n professionele etiek. In my prediking spreek ek veral die leefwyse voor God, naaste en samelewing aan. Ek is ‘n sterk voorstaander van ‘n publieke teologie. My siening bly dat die kerk die “kragsentrale” vir die koninkryk is. Ons navolging is in die wêreld waarin ons woon.

Die wêreld van werk het my geloof verruim. Dit is hier waar jy uitgedaag word om reg te doen en deugsaam te lewe. Jy hoef nie vir mense te preek nie, maar jou gesindheid en hoe jy sake hanteer, is wat saak maak. Dit sou min waarde hê om met die spreekwoordelike Bybel onder die arm te loop, maar daar is gevaarligte oor wat mense in die werkplek oor jou gedrag en werk sê. Jakobus se opmerking is my leuse vir die werkplek: wys my jou werke. . .

In die elke dag se lewe werk jy met mense van verskillende oortuigings, sienings en ervarings. Jy beleef mense se uitdagings. Jy hoor van hulle teleurstellings. Jy sien elkeen se reaksie. Ek glo dat elkeen geregtig is op jou respek, deernis en professionele ondersteuning. Binne die werkplek beleef jy wat vir mense saak maak in goeie en slegte tye. Dìt beïnvloed my prediking. Hoewel ons glo dat die Woord tydloos is, moet dit ìn tyd vir mense betekenis hê.

My denkwêreld is gevorm deur baie mense, indrukke en belewenisse. As navorser is my belangstelling in die mediese en bio-etiek. Hier is die vrae rondom lewe en dood en die naderende lewenseinde. Een van my mentors, prof Roger Burggraeve, emeritus-professor in etiek, het my gewys op “groei-etiek”. Jy moet altyd na ‘n beter uitweg strewe. As dit nie nou kan nie, dalk môre. Ek is ‘n sterk voorstaander van voortdurende vernuwing.

COVID-19 het my bewus gemaak van twee sake: kerkwees in ‘n nuwe wêreld. Ek weet baie mense is ontsteld oor die kerk wat “ingeperk” is of beperk oop is. Maar die kerk is nie gesluit nie. Die gebou wel. Dit is die brug waaroor ons sal moet kom. Die kerk sal altyd ‘n posadres hê, maar is nie langer beperk tot daardie adres nie. Dit is die geleentheid wat die pandemie ons bied. As kerk sal ons nie kan wegkruip vir die werklikheid van die Vierde Industriële Revolusie nie. Digitale platforms is die preekstoele van die toekoms. Hier is ‘n geleentheid vir die kerk: om tegnologie ‘n menslike aangesig te gee. Jy kan mense bereik en deernis met hulle hê. In grendeltyd het ek dikwels vir mense gebid via byvoorbeeld, WhatsApp. Onthou weer: dit is net die kerkdeur wat gesluit is; nie die evangelie nie.

As navorsingsbestuurder aan die SUT het data en die inligting wat ons daaruit ontwikkel, ‘n nuwe wêreld vir my oopgemaak. As kerk kan ons leer uit die data wat ons versamel, byvoorbeeld kerkbywoning. Ons behoort belangrike afleidings vir die kerk as instelling hieruit te maak. Kwynende kerkbywoning was lank reeds voor die pandemie ‘n werklikheid. Ek is nie oortuig dat ons toe reeds genoeg gevra het hoe kan ons die evangelie bedien in ‘n post-strukturele wêreld nie. Nog ‘n saak wat ons nie uit die oog moet verloor nie is die ouerwordende gemeenskappe danksy verbeterde gesondheidsvoorsiening en dus lewensverwagting. Dink ons genoegsaam aan hoe die evangelie byvoorbeeld aan geriatriese mense gebring gaan word? Ouer mense se behoeftes is nie net op die einde van die lewe gerig nie.

Met dit gesê, bly ek vashou aan die oortuiging dat die kerk ‘n belangrike rol het om te speel – as ons bereid is om ‘n mede-argitek van ‘n nuwe samelewing te word met die “boumateriale” en “omgewing” tot ons beskikking.

Nuutste Artikels