Blog

Die krag van die verlede, hede en toekoms – ‘n begrafnisrefleksie

 29 Jul 2022  Dr Suzanne van der Merwe   Verbi Divini Minister

Die realiteit van predikante met ‘n bediening aan hoofsaaklik ouer lidmate, word dikwels, selfs soveel as een keer ‘n week, gekonfronteer met die dood. Die dood, of dit verwag word of onverwags is, ruk ‘n mens tot stilstand. Dit dwing mens tot besinning oor die lewe; diepe nadenke oor die verlede, hede en toekoms.

Die kattebak van my Oupa se maroon Peugeot 404 het ‘n reuse indruk op my kindergemoed gemaak. Daar was letterlik plek vir ‘n halwe bees, pampoene so groot soos die Peugeot se spaarwiel, twee dosyn vars groenmielies en dan nog bagasie ook. Nietemin. Die kattebak van die Peugeot 404 herinner my vandag aan ‘n lewe wat deur die verlede gebind word. Wanneer jy in die verlede leef, is dit asof jy ‘n Peugeot 404 se kattebak daagliks met jou saamneem. ‘n Verlede-lewe lyk as volg: ‘n Krampagtige vashou aan al die dinge wat lankal reeds verby is. Hierdie verlede-lewe pak ek in en dra dit daagliks met my saam. Werk toe, huis toe, kerk toe. Ek gaan slaap daarmee. Ek staan daarmee op.

‘n Verlede-lewe is doodnormaal, aangesien ons verlede ‘n groot rol speel in ons lewe. ‘n Verlede-lewe het dikwels ook die potensiaal om ‘n negatiewe uitwerking te hê, aangesien jy deur die verlede gebind word met verskeie selfverwyte. Selfverwyte oor die dinge wat ek gedoen het. En selfverwyte oor die dinge wat ek nie gedoen het nie. Die verlede bind jou ook met verwyte teenoor ander mense. Ek verwyt ander oor die dinge wat hulle aan my gedoen het. Ek verwyt ander vir die dinge wat hulle nie vir my gedoen het nie.

‘n Verlede-lewe is gevaarlik. Daar is net té veel bagasieruimte vir die negatiewe herinneringe van die verlede. Kattebakke het plek vir skuldgevoelens; wanneer ek weet dat ek nie voldoen het aan die verwagtings en standaarde wat ek aan myself of ander aan my gestel het nie. Kattebakke het plek vir gevoelens van skande en skaamte; wanneer ek voel dat ek nie goed genoeg is nie. Ek skiet in vele opsigte tekort en stel myself en ander teleur.

Dan is daar ook ‘n ander motor wat ek baie goed onthou. My Tannie se Volkswagen kewer. Bloedrooi met blomme in allerhande kleure daarop geverf. Hippie-kar! Kunstenaarskar soos sy wel is. Baie bagasieplek voor in die kattebak met die lugverkoelde 1600 motor agter wat haar ‘n gevaar in Nigel se strate gemaak het. Wanneer ek aan die rooi kewer dink, herinner dit my aan ‘n lewe wat hoofsaaklik in die toekoms geleef word. ‘n Toekoms-lewe word gekenmerk aan die voortdurende begeerte om die dag van môre te beplan en te bestuur. Al waaraan ek dink, is al die dinge wat nog moet gebeur en aan alles wat kan gebeur. Dit is eweneens net so normaal as ‘n verlede-lewe, maar dikwels ook ‘n negatiewe deel van my bestaan.

‘n Toekoms-lewe word oorheers deur gevoelens van bekommernis en vrees. Ek bekommer my voortdurend oor my werk en my huisverband en my lewenstandaard. Ek vrees die besluite van die politici en die moontlike gevolge van ‘n aanhoudende resessie. Ek is bekommerd oor my kinders en my ouers en en en en ... Die implikasie van ‘n toekoms-lewe is dat ek verlam word deur my vrese. Ek word geïmobiliseer met onsekerhede. Ek word tot stilstand gedwing deur passiwiteit. ‘n Negatiewe toekoms-lewe is net so gevaarlik en onvervuld soos ‘n negatiewe verlede-lewe.

En laastens dink ek dan aan die eienares van ‘n gym se sportmotor. ‘n Bloedrooi gevaarte! ‘n Kragtige twee-sitplek sportmotor. Min bagasieplek. Geen kinders, geen skoonma. Net jy en die 

liefde aan jou sy. Wind deur die hare, sonbril teen die son en perde – baie perde onder jou regtervoet. Hierdie sportmotor laat my dink aan ‘n lewe in die hede. Lekker, baie lekker! Begeerlik, maar net so gevaarlik as die verlede-lewe van die Peugeot 404 en die toekoms-lewe van die Volkswagen kewer!

‘n Hede-lewe hou die gevaar in om so vasgevang te voel in die sleurgang van die lewe, dat dit juis ‘n roekelose en onverskillige lewenshouding teweegbring.

Openbaring 1:8 rig my nadenke oor die verlede, hede en toekoms - in hierdie enkele vers vind ek balans.

“‘Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom, sê die Here God, die Almagtige.” (2020 Vertaling)

Alfa en omega is die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet en omsluit al die ander letters. Alfa. Beta. Gamma. Delta. Epsilon. Zeta. Eta. Theta. Iota. Kappa. Lambda. Mu. Nu. Zi. Omicron. Pi. Rho. Sigma. Tau. Upsilon. Phi. Chi. Psi. Omega. So word dit duidelik in hierdie vers dat tyd, ons tyd, opgesluit en verenig is in die almagtige hand van die Here. Die begin en die einde. Gister en môre. Vandag ook en al die ander dae.

Hy wat is, wat was en wat kom – die Almagtige

Hy is die Heerser oor vandag.

Hy is die Kenner van die verlede.

Hy is die Brugbouer na die toekoms.

Ek en jy, as gelowiges, word telkens opgeroep om God se ambassadeurs te wees. God se ambassadeurs van vandag, van gister en van môre wat nog kom.

So: Hoe leef en dink ons oor die lewe, as ware en getroue ambassadeurs?

Wat doen ons met die verlede? Aanvaar ons bloot die verlede? Bely ons die verlede? Of bou ons op die verlede? Die verlede, ja, selfs ‘n flenter-verlede kan inderdaad die stukrag in jou lewe wees, wat jou neem na jou bestemming. Wat doen ons met die toekoms? Droom ons oor die toekoms? Is jy voorbereid vir die toekoms? Die toekoms kan die trekkrag wees waarmee ons vandag met opgewondenheid leef. Die toekoms kan ons motiveer en inspireer om net die heel beste van die lewe te verwag. Wat doen ons met vandag? Leef jy vandag met die wete dat vandag gister gaan word en dat vandag die dag van môre sal bepaal? Maak jy die beste gebruik van elke oomblik? Carpe Diem? Leef jy omdat jou lewe belangrik is en jy ‘n verskil maak? Doen jy wat jy doen met jou hele hart en jou hele siel en al jou verstand? Vandag kan die DRYFKRAG wees wat jou en my aanspoor tot grootsheid en die volvoering van ons lewenstaak.