Blog

Die (in)stemming van daai eerste preek

 20 May 2022  Dr Martin Laubscher   Verbi Divini Minister

Die afgelope naweek het talle studente die geleentheid gehad om, ten minste voor hul klasmaats en dosente, vir die eerste keer te preek. Om verskeie redes was dit ʼn onvergeetlike ervaring. Wie onthou nie daardie eerste (klas)preek nie – en ek bedoel nie net jou eie nie, maar ook die aanhoor en geklank van ʼn medestudent ná jare van saam studeer. Vooraf het ek onder meer “gewaarsku” die naweek kom met ʼn blywende effek, en agterna met die terugvoer was die eggo daarvan deurgaans tussen die lyne. Ek is dankbaar vir Woord wat op soveel vlakke die naweek kon gebeur het. 

Vanjaar is daar dalk veral een aspek vanuit bogenoemde vuurdoop wat my persoonlik opnuut getref het, naamlik dié vind, en vir sommige weer dié verlies, van jou eie stem. Die instemming tot die gebeure van die prediking, en veral daardie eerste keer, bly myns insiens een van die grootste geheimenisse wat daar is. Stil, skaam, en teruggetrokke studente begin meteens te praat met durf, erns en passie oor ʼn woord wat hul gehoor het. Voortvarende, voorbarige en oordonderde stemme word meteens gestroop van ʼn bepaalde skyn en valsheid deur meer te begin spreek soos wat hul aangespreek word. Om jou stem al meer te hoor, te vind, of te laat gaan, ja in te stem met God se stem (Woord, geloofsgemeenskap, en wêreld), is waarskynlik die mees van-Sélf-sprekende geklank van kruis en opstanding.

Hoe om met hierdie ambivalensie van instemming tot die evangelie om te gaan, bly ʼn besonderse gawe en roeping wat veral in die homiletiek na vore tree. Enersyds is daar iets gesond en verruklik daaraan om te sien hoe studente in verwondering met vrees en bewing hul roeping toeëien, en tog kan die einste vrees en bewing ons ook verwond, beskaam en pynlik deurboor wanneer ons sukkel om as eerste hoorders van die evangelie daaraan gehoor te gee. 

Waar ons in werkstukke – en selfs gesprekke – kan teoretiseer en reflekteer, is daar in die prediking nie so ʼn “wegkruipplek” nie. Daar is ʼn wesenlike en aangrypende (“wêreldse”) verskil tussen die spreke “oor God” en die soeke na spreke “van God”. Waar dit in die teologie soms nog moontlik is om op ʼn afstand (“detached”), ietwat losgemaak (selfs kil, koud en afsydig) oor die saak te probeer praat – byvoorbeeld: Blote empiriese data en syfers waarmee omgegaan word – is dit onmoontlik om sulke skanse in die prediking voor te hou. Prediking is nóg ʼn lesing of blote inligting, nóg ʼn vertelling of tegniek om te bemeester, nóg ʼn resep en ʼn paar punte om te deel, nóg ʼn motivering en selfhelp-praatjie, nóg vermaak en terapie, nóg iets daar-doer-en-ver-op-ʼn-afstand, maar veel eerder ʼn lewe in die greep van dié Getuie-met-sy-getuienis waaroor ek nie kan swyg of stilbly nie. Tussen geroep, aanroep én uitroep, is daar ʼn noue verband as dit kom by die prediking.

Vervolgens was die naweek se self-onthulling en getuienis tegelykertyd kragtig én verleidelik, want die lyne is fyn en die balans delikaat. Hoe ons nuanseer en waar ons die klem laat val, getuig en spreek immers van waar ons faal en/of aangespreek was. Daarom bly die komposisie, balans, stemming en instemming ʼn fenomenale (pneumatologiese!) gebeurtenis, want ons weet immers maar alte goed hoe kosbaar en broos hierdie proses is. Tussen simfonie en kakofonie – soos met waarheid en leuen – is daar is fyn lyn met tog soveel ruimte vir speling en improvisasie dat ons onbevange met ʼn oop gemoed ons stem mag instem om sodoende met groter vrymoedigheid te kan begin (saam)/(na)praat. Gehoorsaamheid skenk vryheid en bevryding; die teendeel allermins. Waarna ons smag – alle hoorders, veral die prediker as eerste hoorder van die evangelie – is die stemming-en-instemming tot die voller waarheid waarin ek my stem sal vind en ontvang in die teenwoordigheid van God se stem wat met en deur ons wil spreek. Só getuig dit immers dat die evangelie werk in ons lewens, menende die evangelie (God) werk in ons lewens.

Dit is dus geen wonder dat Johan Cilliers in sy basiese preek-teorie die prediker se stem in wese as ʼn afgeleide stem in die teenwoordigheid van die ander stemme sien nie. Anders gestel: Wie sy/haar stem wil behou, sal dit verloor; en wie hul stem vir Hom verloor, sal dit vind. 

Predikers wat outentiek, broos, eerlik, ja selfs naak op die kansel staan, is voorwaar iets om te aanskou – menende: Geklee met Christus, en in stemming (ingestem) met die Gees, wat aan ons die nodige woorde skenk om met vrymoedigheid onsself te verloor en te vind in die aanleer en spreke van die belydende tale Kanaäns. 

Nuutste Artikels