Blog

Christus, die groot Plaasvervanger

 31 Mar 2021  Dr Bertus Celliers   Algemeen

Gedagtes vanuit Jesus se verhoor soos vertel deur Markus (onder andere)

Barabbas of Christus? Wie word vrygelaat? Wie word tereggestel?

Die Romeinse Goewerneur, wat die keiser as hoogste gesag in Palestina verteenwoordig, word voor hierdie keuse gestel. Hy het die mag om te besluit wie vrygelaat en wie tereggestel word. Hy moet natuurlik sy primêre opdrag van die keiser in gedagte hou – en dit is om die Romeinse vrede te handhaaf, en met die swaard af te dwing as dit nodig is. Die keiser wil nie onrus en opstand in sy ryksgebied hê nie. En Palestina was juis hiervoor berug. Dit is ‘n provinsie waar groepies Jode wat die Romeinse juk wou afgooi, kort-kort geweld gestook het. Moontlik was Barabbas en die twee misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is, juis deel van ‘n so ‘n groepie terroriste. En moontlik was die derde kruis, die een waaraan Jesus toe vasgespyker was, eintlik vir Barabbas bedoel.

Dit is insiggewend dat die Joodse leiers Jesus van dieselfde soort opstand aangekla het by Pilatus. Dat Hy Homself voordoen as die Koning van die Jode, en so probeer om ʼn beweging aan die gang te kry om die Romeine uit Palestina uit te jaag.

Weereens, Jesus Christus of Jesus Barabbas?

Ook insiggewend is dat Pilatus eintlik vir Jesus aan hierdie klag onskuldig bevind. Hiermee sê hy dat Jesus op geen manier op dieselfde vlak as Barabbas beoordeel kan word nie. Jesus is nie skuldig aan enigiets wat die dood verdien nie, wat nog te sê ʼn kruisdood, die soort dood waarmee terroriste en rebelle tereggestel is. En tog hits die skare onder opsweping van die Joodse leiers Pilatus aan om Christus tereg te stel en Barabbas vry te laat.

‘n Anderster soort Koning

Natuurlik is daar nie twyfel dat Jesus die Koning van die Jode is nie. In sy gesprek met Pilatus het Hy dit in enkele woorde erken en bevestig. Maar, belangrik, daar was nooit enige aanduiding dat Hy selfs net gemik het in die rigting om die Romeinse oorheersing met geweld te verbreek en Homself so as staatkundige koning van Israel te vestig nie.

In werklikheid het sy koningskap duidelik geword deur die teenoorgestelde van geweld. Hy het sy koningwees sigbaar gemaak deur siekes gesond te maak, duiwels uit mense uit te dryf, dooies lewendig te maak, en God se liefdesgebod as koninkryksreël uit te spel deur talle voorbeelde en gelykenisse. Pilatus se informasie was reg – Jesus was weliswaar ʼn wêreldvreemde soort koning, maar verseker nie ʼn staatsgevaarlike terroris soos die Joodse leiers voorgegee het nie. Anders as Barabbas.

ʼn Bekonkelde klag

Wat ook insiggewend is, is dat die Joodse leiers in hulle eie hof Jesus vir ʼn heel ander soort aanklag verhoor het. ʼn Soort aanklag wat natuurlik nie by die heidense Pilatus sou werk nie – naamlik godslastering. En wat die onreg teen Hom nog groter maak, is dat die top priesters gekonkel het, sodat die getuies Jesus se woorde óf verdraai het, óf buite konteks aangehaal het, óf pleinweg vervals het. Die Hoë Priester het sommer self hierin meegedoen. So het hulle gesorg dat die ander lede van die Joodse Raad ʼn verdraaide weergawe van Jesus se prediking kry, én van wat Hy oor Homself sou gesê het.

Dit is eintlik skrikwekkend om te lees hoe daar saamgespan is om van Hom ontslae te raak. Die top leiers van God se volk op daardie stadium - kenners van die Ou Testament en van God se wette wat daarin vervat is, die vernaamste lede van die priesterkorps wat moes diens doen in God se tempel, en die leiers onder die Fariseërs – die groep Jode wat deur hulle wetsgetrouheid hulleself op ʼn hoër godsdienstige trappie as die res geag het - het almal saamgespan, gekonkel en die massas opgesweep om Hom eenvoudig uit die pad te kry – God se groot Profeet uit Nasaret, die Koning, wat God belowe het om te stuur. En so het die godsdienstige leiers die hoogste regterlike en politieke gesag in Palestina oortuig om die misdadiger vry te laat en die Onskuldige in sy plek tereg te laat stel. 

Natuurlik ook in ons plek.

God se meesterplan

Hier is natuurlik nog ʼn kant aan hierdie verhaal wat daaraan ʼn baie dieper dimensie gee. En dit is die aktiewe rol wat God self hierin speel. Jesus was nie maar net die onskuldige slagoffer van menslike onreg en sonde nie. Hy was nie eenvoudig magteloos uitgelewer aan die bose magte en kragte wat in die wêreld aan die werk is nie. Nee, onteenseglik nee. Dit was alles deel van God se meesterplan om mense te verlos uit die mag van die Bose en om die gebroke skepping te herstel.

Toe Hy enkele ure vantevore in Getsemané gebid het, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg, het Hy geweet watter ontsettende onreg en verskriklike lyding op Hom wag. Hy was doodsbenoud daaroor. En tog bid Hy daarmee saam: nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.

Jesus was nie magteloos uitgelewer aan die godsdiensleiers, die opgesweepte skare en Pontius Pilatus nie. Hy het Hom vrywillig en selfs doelbewus aan die onreg wat Hom aangedoen is, onderwerp. Hy het dit stilswyend verduur. Hy kón sy Goddelike mag as Messias gebruik om eenvoudig daar uit te stap en terug te gaan Galilea toe. Hy kon, maar Hy het nie. Hy het nie. Hy het doelbewus tydens die Paasfees na Jerusalem gekom om in ons plek onder onreg te ly en te sterf. Om onskuldig en sondeloos die soort dood te sterf wat ons eintlik moet sterf – ‘n Godverlate dood.

Die mensgeworde Seun van God, die Koning en groot Profeet wat God gestuur het, ons hemelse Hoëpriester, die volmaakte Offer - Hý het Homself oorgelewer in die hande van die genadelose godsdiensleiers en die heidense regter. Wat ons dubbel en dwars verdien vanweë ons opstand teen God en ons sonde teenoor mekaar – dit het Hy, die groot Plaasvervanger, vrywillig op Homself geneem sodat ons daarvan vrygespreek kan word.

En vandag?

Ons moenie vandag verbaas wees wanneer mense wat Jesus getrou probeer volg, wanneer mense wat sy Koningwees op sý unieke manier in die wêreld sigbaar probeer maak, ook soos Hy onreg moet verduur as gevolg daarvan nie. Hy was destyds nie die soort koning wat die meeste mense wou hê nie. Hy is vandag steeds nie die soort koning wat die meeste mense wil hê nie.

Hy is en bly egter die Koning wat God gestuur het om sy Koninkryk hier op aarde te laat kom, soos in die hemel.

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.