Blog

Christo Weideman - 'n man vir orde

 3 Jun 2022  Mariëtte Odendaal   Leer ken die Moderamen

“Ek sou graag die uitdaging wil aanvaar om leraars en kerkrade ’n liefde vir die Kerkorde te leer en hierdie een basiese reël vir almal te leer: Kom ons hoor net eers wat die Kerkorde sê!”


Christo Weideman, ons pas verkose STK-voorsitter van die Sinode Vrystaat, is gebore in Middelburg Kaap, en het grootgeword in Reivilo waar hy sy skoolloopbaan in 1975 begin het. Sy pa was verbonde aan die poskantoor en is aan die einde van 1979 na Warmbad (Bela Bela) verplaas waar Christo sy skoolloopbaan voltooi het.

Daar is natuurlik baie mense wat in ’n kind se vormingsjare ’n bepalende invloed op ’n mens se lewenskeuses en selfs jou beroep het. As jong tiener het Christo in Standerd 7 (Graad 9) tydens ’n CSV-kamp by Winklespruit sy lewe vir die Here gegee. “Dit was danksy die leiding van een van die ‘kamp-ooms’, Dries Coetzee,” vertel Christo. “In die jare daarna sou hy 'n ongelooflike rol in die vorming van my geestelike lewe en karakter speel. Hy sal altyd een van my geestelike helde wees.

“Ds Otto Lessing, wat tydens my hoërskooljare leraar in Warmbad was, het my gehelp om my roeping as predikant 'n werklikheid te laat word. Ek wou nooit iets anders as ’n polisieman word nie, maar nadat ek een nag in Standerd 9 (Graad 11) gedroom het dat ek op ’n kansel staan en met mense praat, kon ds Lessing my help om dit te verwerk en my roeping te verstaan.

“Ek is van nature 'n introvert wat nie baie praat nie, so die droom het nie sin gemaak nie. Ek het nie veel aandag daaraan gegee nie en voortgegaan met my beplanning om toelating tot die Polisie Akademie te kry.

“Laat in my matriekjaar, nadat die universiteite se toelatings- en koshuisaansoeke eintlik al gesluit was, het ek weer een nag dieselfde droom gehad. Ek kon dit glad nie uit my gedagtes kry nie en is een middag ná skool na ds Otto toe. Hy het aan my verduidelik dat dit 'n roeping van die Here is. Oom Dries Coetzee, wat my destyds na die Here gelei het, was op daardie stadium werksaam by PUK. Danksy ds Otto en oom Dries se hulp het ek toelating tot BA Admissie gekry, asook plek in die koshuis en het boonop nog 'n beurs ook bekom! Die onmoontlike het eintlik hier gebeur en dit het my roeping net soveel meer bevestig: Dit was van die Here!”

Nadat Christo sy BA Admissie aan PUK voltooi het, is hy na Kovsies en behaal sy BTh in 1992. “Daarna was ek bevoorreg om deel te kon wees van die heel laaste inname van dienspligkapelane in die geskiedenis van Suid-Afrika,” vertel Christo. “Ek is na Heidelberg uitgeplaas vir my basiese opleiding en het daarna vir die res van die jaar my diensplig in Bethlehem gedoen.

“Deel van die kapelaan se verantwoordelikheid was dat hy aan 'n gemeente gekoppel moes wees. Ek is toe aan die NG Kerk Bethlehem-Wes gekoppel met opdrag die Charlotte Theron Kinderhuis. Na voltooiing van my diensplig het die gemeente my 'n pos by die kinderhuis aangebied wat tot April 1995 gestrek het. Ds Piet Taljaard het in die eerste jare van my bediening daar, my soveel geleer van die kerk en hoe alles in die kerk werk. Ook vir hom sal ek die Here altyd dankbaar wees, dat hy so ’n goeie mentor vir my as jong proponent was!

“Ek het my eerste beroep na die NG Kerk Vanderbijlpark-Noord ontvang en was daar leraar vir 18 jaar tot einde April 2013 toe ek 'n beroep na Kroonheuwel-Noord in Kroonstad aanvaar het. Op 1 Mei vanjaar was ek nege jaar in die gemeente.”

As predikant doen mens natuurlik baie goeie lewenservaring op en kan jy na soveel jare ervaring goeie raad aan voornemende predikante gee. Christo deel met ons die volgende: “Ek was seker nog nie ses maande in Vanderbijlpark nie, toe 'n paar ouderlinge my kom sien. Die een oom sê toe vir my ek moet ’n bietjie stadiger; ek is gans te vinnig vir hulle. Ek sal hierdie lewensles altyd onthou. Jy kan nie as predikant net inspring en sommer gou-gou alles wil verander soos jy dit wil hê nie; jy moet saam met jou gemeente groei.

“Ek het ook groot hartseer beleef toe sewe mense op 'n dag in 2002, tydens 'n tagtigste verjaardagpartytjie van ons destydse buurtannie, verdrink het. Die vlot waarop hulle gaan vaar het na middagete, het omgeslaan – sy self was een van die slagoffers ... Ek onthou dit soos gister. Daar sit ek langs die wal van die rivier met die liggame van mense met wie ek 'n halfuur gelede nog lekker gekuier het. En skielik besef ek dat die Kweekskool my niks geleer het van hoe ek nou moet maak nie – en almal kyk na die dominee vir antwoorde …

“Ek het daarna begin om trauma-pastoraat te bestudeer en het sedert daardie gebeure talle kursusse daaroor gedoen. Die grootste deel daarvan het ek by prof Wentzel Coetzer in Potchefstroom gedoen.  

“As daar nog 'n stukkie raad is wat ek graag aan jong leraars kan gee, dan is dit dat jou eintlike opleiding as predikant eers in die praktyk ná jou akademiese jare begin. Jy moenie dink jy het nou klaar geleer nie; dit begin dan eers!”

Om predikant te wees, verg baie wysheid en insig; mens moet maar dikwels gaan kers opsteek by ander. Vra jy vir Christo wie sy mentors is en wie hom help insig gee om sy menings te help vorm, antwoord hy: “Ek het 'n hele aantal goeie mentors in my lewe. My twee groot geestelike mentors is Stephan Joubert en Johan Smith. Ten opsigte van pastoraat en berading kan ek nie genoeg dankie sê dat my pad op 'n dag met prof Wentzel Coetzer gekruis het nie.

“Ek het ook 'n paar goeie vriende in die sakewêreld wat my weer ten opsigte van die wêreld buite die kerk baie van sakebeginsels leer; iets wat ek met groot vrug ook in die gemeente kan gebruik.

“Ek het al vir ’n hele paar jaar die gewoonte om elke week 'n boek te lees. Ek probeer dus om 52 boeke per jaar te lees. Sodoende kon ek dus ook 'n groot verskeidenheid erkende geestelike leiers se kennis tot dusver benut. Alhoewel ek hulle nie almal persoonlik sal kan ontmoet of leer ken nie, beskou ek hulle as belangrike mentors in my lewe.”

Christo is in Maart vanjaar as die STK-voorsitter van die Sinode Vrystaat verkies. Hy deel met ons wat hy as uitdagings in hierdie posisie beskou: “Dis maklik een van die grootste uitdagings waarmee ek nog te kampe gehad het; ek was eintlik glad nie gereed hiervoor nie. Ek het eintlik al verlede jaar te kenne gegee dat ek as skriba van die STK uittree. Daarmee het ek aanvaar dat ek dan sommer ook uittree by STK as sodanig, maar toe werk dit anders uit. Dit bly 'n uitdaging om die Kerkorde vir almal aanvaarbaar te maak. Mense wil dikwels maak nes hulle wil en steur hulle nie aan die Kerkorde nie. Jy is dan uiters ongewild as jy persone daarop wys dat sekere handelinge of prosesse gewoon net on-kerkordelik is. Ek sou graag die uitdaging wil aanvaar om leraars en kerkrade 'n liefde vir die Kerkorde te leer en hierdie een basiese reël vir almal te leer: Kom ons hoor net eers wat die Kerkorde sê!”

Vra jy vir Christo wat hom opgewonde of bekommerd maak oor ons volgende geslag predikante, antwoord hy as volg: “Ek is bekommerd oor die klein hoeveelheid studente wat in die laaste paar jaar afgestudeer en predikante geword het.

“Na afloop van die onlangse ASM-vergadering was daar ook opgewondenheid by my oor die jong leraars wat graag hul plek in die bediening wil volstaan en wil saamwerk om die NG Kerk steeds kerk van die Here te wil laat wees soos dit ons ouer predikante se droom al die jare was.

“Na die sinodesitting was ek baie negatief oor die toekoms van die kerk in die Vrystaat – veral ten opsigte van Art 37 en die moontlike uittrede uit die Algemene Sinode-verband. Na ons ASM-vergadering het ek egter nuwe hoop dat ons mekaar tog kan vind en een kan bly. Dit is my groot droom vir my plaaslike gemeente, ons ring, ons sinode en die NG Kerk in Suid Afrika – dat ons aan mekaar verbind sal bly, ongeag diepliggende verskille oor sekere sake. Ons eenheid is eenvoudig net te belangrik.

“Om daarby uit te kom, sal baie gesprekke, baie luister en baie geduld kos. Dit sal groot opoffering van almal verg en vereis dat ons die groter prentjie altyd in die oog sal bly hou – dat dit oor meer in die kerk sal gaan as net my eie siening.

“Soos wat gemeentes beleef het dat die Here die onmoontlike kan laat gebeur (om dit te laat reën toe gemeentes saam daarvoor gebid het), so glo ek dat as ons aanhou om die aangesig van die Here oor hierdie sake en verskille te soek, Hy ook die skynbaar onmoontlike sal laat gebeur; dat ons almal binne hierdie familie sal bly.”

Christo se groot passie in sy bediening is die toerusting van lidmate. Hy vertel: “Ek bied al vir baie jare weekliks 'n Bybelskool aan vir 'n groot aantal lidmate en selfs aan mense wat nie deel van die gemeente of NG Kerk is nie. 

“Buite my bediening is my passie houtwerk. Ek is bevoorreg om 'n hele houthuis as 'n werkskamer te kan hê. Dit is volledig toegerus met al die nodige masjienerie om enige soort houtwerk te kan doen. My nuwe droom is om te leer om houtpenne te kan draai en uiteindelik van elke hout denkbaar 'n pen te hê wat ek self gedraai het!”

Christo is al 27 jaar getroud met Edith, ’n remediërende onderwyseres, en hulle het twee kinders, Rudéne (in haar finale jaar B.Pharm) en Henco (tweede jaar B.Ed) wat albei aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer.


Foto deur Tertius Botha (Sinodesitting 2022): Ds Christo Weideman, Verteenwoordiger van STK: Moderamen

Nuutste Artikels