Blog

Carin van Schalkwyk: “Sy het haar Here liewer as die lewe gehad.”

 8 Mar 2022  Dr Gideon van der Watt   Visionering

Dr Carin van Schalkwyk, bekende en geliefde leraar van die NG Kerk Philippolis, is op 7 Maart 2022, ná ’n moedige stryd teen kanker, in die Paarl oorlede. Die reaksies op sosiale media wat van oral instroom, kollegas en vriende wat verslae hulle hartseer probeer verwoord, getuig daarvan dat Carin vele mense oor die lengte en breedte van ons land en in die buiteland se lewens diep aangeraak en verryk het. Haar heengaan laat ’n geweldige leemte, maar haar reuse-bydrae bly voortleef en word dankbaar onthou en gevier.

Carin tydens ‘n besoek aan die Reformed Church in Zambia

Foto: Johanneke Kroesbergen-Kamps

Carin is op 26 Januarie 1971 gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoërmeisieskool La Rochelle in die Paarl. Daarna studeer sy teologie aan die Universiteit van Stellenbosch; sy is deel van ’n baanbrekersgroep vroue wat teologie studeer met die oog op bediening as leraars van die NG Kerk. Sy behaal uiteindelik haar doktorsgraad in Ou Testament en Antieke Nabye-Oosterse studies. As proponent doen sy vanaf 1994 tot 1998 jeugwerk by die Toringkerk in die Paarl. In 1998 maak sy doelbewus die groot skuif vanaf ’n welvarende Bolandse gemeente na die arm woongebied, Bergmanshoogte, in die historiese Suid-Vrystaatse dorp, Philippolis. Hier doen sy jeugwerk en gemeenskapsdiens in en vanuit die plaaslike VGK. In ’n Kerkbode-artikel deur Neels Jackson vertel sy: “Die Here het met my gepraat deur Matteus 25, die teks waar Jesus vertel dat hy honger en dors was, ’n vreemdeling en sonder klere, siek en in die tronk – en dat party vir Hom gesorg het en party nie. En as hulle Hom vra wanneer dit gebeur het, sê Hy vir sover hulle dit aan die geringstes gedoen het, of nié gedoen het nie, het hulle dit aan Hom gedoen, of nié gedoen nie.” Carin het tuisgekom tussen die mense van Bergmanshoogte. Van Carin praat Ragel Padda, ’n voorvrou in die gemeenskap, as “ons dominee wat haar spreekkamer op die stoep het”. Sy sit maklik op ’n stoepmuurtjie of op die sypaadjie met mense en gesels. “Sy praat dieselfde taal as ons. Sy het een geword met ons.”

In haar bediening in Bergmanshoogte het sy moeilike tye beleef, vertel Carin aan die Kerkbode. In 1999 het die mense begin doodgaan aan MIV Vigs. Aanvanklik het hulle nie verstaan wat gebeur nie. Dit het ’n vloedgolf geword. In die begraafplaas wys Carin die paar rye grafte wat daar was toe sy in Bergmanshoogte aangekom het en die rye en rye grafte wat bygekom het weens vigs. Daar was Saterdae wat sy drie of vier begrafnisse moes lei. Van ’n koor van 20 lede was daar net vyf wat sy nie begrawe het nie. Sy het soms soos die doodsengel gevoel. Maar Carin het met deernis volhard.

Foto: Neels Jackson

Toe die NG Gemeente in 2006 vakant raak, begin sy ook uithelp met die bediening daar – steeds net as proponent. Eers in 2008 word sy amptelik as leraar van die NG Kerk Philippolis bevestig, terwyl sy ook die bediening in Bergmanshoogte volhou. In die NG Gemeente, waarin Carin met net soveel ywer dien, word sy ook baie geliefd. Sy begelei die gemeente deur krisisse en spanningsvolle tye, en bou brûe tussen die verskillende gemeenskappe. Sy open veilings en skoue, sy verkoop vleis as inkomste vir die gemeente; sy ry taxi en laat haar profetiese stem duidelik hoor; intens deel sy in die lief en leed van die dorp en die landbougemeenskap. Diakonale- of gemeenskapsdiens was deurentyd haar fokus – ook deur die ontwrigting wat COVID-19 bring. Sy vertel dikwels met groot liefde van die baie interessante en lojale mense van haar tuisdorp en hoe almal leer saamwerk en mekaar leer bedien het.   

Carin se toewyding en talente het gemaak dat haar bediening al hoe wyer uitgekring het. Sy neem leiding in die Ring van Fauresmith, bedien ook die gemeente van Gariepdam, word vroeg in haar bediening in die NG Kerk reeds verkies op die Vrystaatse moderamen en uiteindelik behartig sy vir twee termyne die veeleisende pos as skriba. Sy dien in verskeie sinodale kommissies en raak ook al hoe meer betrokke by werk van die Algemene Sinode, ook as lid van die Algemene Sinodale Moderamen. Tot met haar dood, selfs vanuit haar siekbed, lewer sy kosbare diens op die Beheerraad van die Christelike Lektuurfonds. Sy bly teologies aktief, gee klas in Zambië en skryf meer kere studiestukke vir sinodes. Vanuit haar pynlike lewenservaring lewer sy ’n kosbare bydrae tot gender-geregtigheid. Haar passie bly egter diens en getuienis, oor alle grense heen. Die liefde en genade van die Here sluit niemand uit nie – dit kan tog nie!

Carin was ’n baie besonderse mens, met ’n ruim gees en ‘n hart vol deernis – veral vir randfigure. Sy het heel konkreet haar liggaam én gees op die altaar in diens van haar Here geplaas. Sy kon sterk standpunt teen onreg inneem. Ds Nelis Janse van Rensburg skryf: “Sy het die Evangelie in sy volheid omarm, soms onverskrokke, soms met finesse. Haar sorg vir die armes en gebrokenes het haar diep insig in die Godgegewe menswaardigheid van elke mens beliggaam. As dominee was sy 'n geskenk aan ‘n totale gemeenskap waarin sy vir elkeen haar beste gegee het – 'n inspirasie!”  

Sedert Carin met kanker diagnoseer is, het sy oop en eerlik oor haar worstelstryd met dié siekte geskryf en gepraat – op RSG, in bekende tydskrifte en veral op sosiale media. Daarmee het sy in die laaste maande letterlik duisende mense bedien, hul lewens aangeraak, hulle vertroos en hul geloof versterk. Dr Eddie Orsmond skryf: “Ons sal Carin met groot waardering onthou. Sy het ons saam op die pad van lyding met kanker geneem en ons gehelp om iets van haar binnekant te kon sien en beleef.” Ds Nelis Janse van Rensburg skryf oor haar stryd teen kanker: “Carin se siekte het by my ongekende hartseer ontlok. Was dit haar broosheid? Was dit haar alleenheid? Was dit haar ongekende solidariteit met gebrokenes en die armstes van die armes? Was dit haar lewensverbintenis tot geregtigheid vir alle mense? Was dit haar tevrede-wees met God se wil vir haar lewe? Was dit haar kinderlike geloof, en absolute toewyding? Of was dit maar net die feit dat sy mooi en goed was en ook vir my, soos vir sovele ander, omgegee het en deernis gehad het?” Net soos Dr Tobie Muller, een van die mees geliefde en bekwame jong leraars van die NG Kerk wat tydens sy bediening ’n eeu gelede in Philippolis tragies in die Groot Griep oorlede is, is haar dood ook “te vroeg” – ’n geweldige verlies vir haar gemeenskap en die hele kerk.  

Een van Carin se mooi foto’s van die Suid-Vrystaatse landskap

Carin het voluit geleef, met soveel oorgawe. Soms was daar baie pynlike ervarings, eensaamheid en teleurstelling; soms kon sy heerlik lag en kuier en net die lewe as gawe uit die Here se hand geniet. Sy het die mooiste foto’s van haar geliefde Suid-Vrystaatse landskap geneem, van mense, windpompe, perde, blomme en voëls – in haar foto’s kon sy met fyn waarneming die vingermerke van die Skepper oral in sy skepping uitken en jubelend verbeeld.

Maar, skryf ’n dierbare vriendin: “sy het die Here liewer as die lewe gehad.”

Carin laat ’n tante, Gertie Hamman van die Huis vir Bejaardes op Trompsburg, vir wie sy met soveel liefde help versorg het, ’n broer, Gary en ’n suster, Elsa (wat weer met soveel deernis teen die einde na Carin omgesien het) na, asook ’n jarelange vriendin, Erica van Lingen. Vir hulle, vir al haar vriende, kollegas en vir almal wat sy met die Woord bedien het en wat haar erg gaan mis, bid ons die Vader se ryke vertroosting toe.                 

Gideon van der Watt