Blog

Bonhoeffer vir vandag – Wat is ons cantus firmus?

 21 Apr 2021  Ds Stoffel Hellmuth   Mediateek

Dietrich Bonhoeffer is sekerlik een van die teoloë uit die vorige eeu wat uitmuntend daarin geslaag het om te oortuig dat christenskap nie beperk is tot religieuse byeenkomste of dalk net godsdiens nie. Hy het dit beklemtoon dat christenskap sy neerslag vind in die lewe in totaliteit.

Wanneer ‘n mens boeke soos “Nachfolge” of “Letters and papers from prison” lees, staan ‘n mens opnuut verstom oor die briljantheid waarmee hy sy teologie by die lewe van elke dag  geïntegreer het.

Ons vind dan ook meermale metafore uit ander dissiplines wat hy gebruik om sy teologiese begrippe te verhelder. Een so ‘n metafoor is die gebruik van ‘n term wat ons in die musiekwêreld vind, nl. cantus firmus. Bonhoeffer het natuurlik self in ‘n huis grootgeword waar musiek ‘n  vername rol gespeel het. Op tienjarige ouderdom was die klein Dietrich so bedrewe as pianis dat hy van die Mozart-sonatas sonder enige bladmusiek voor hom kon speel. Hy skryf dan ook later aan sy vriend, Eberhard Bethge, in “Letters and papers”, dat musiek deel uitmaak van die “guten leben”.

Iets meer oor die musiekbegrip “cantus firmus” wat Bonhoeffer dikwels gebruik het: Collins omskryf hierdie begrip as die onderliggende melodie waarby daar ander stemme gevoeg word. Hierdie melodie bly steeds die basis vir nuwe veelstemmige komposisies wat in die simfonie volg.

Christologie het in die sentrum van Bonhoeffer se teologiese denke gestaan. Die vraag ”Wie is Jesus Christus?” sou dan ook die cantus firmus van sy denke vorm, soos hy later self in aantekeninge vir sy “Etiek” sou skryf. Hierdie onderliggende melodie, nl. die vraag “Wie is Jesus Christus?”, moes weerklink in die ganse lewe. Dit was egter nooit by hom ‘n soeke na ‘n antwoord wat ‘n teologiese somtotaal van wie Christus is, sou insluit  nie. Veel eerder was dit ‘n vraag as uitdrukking van verwondering  oor die misterieuse God wat Homself kom openbaar in die mens, Jesus Christus. Daarom sê hy dan ook dat, hoe meer ons Christus as ons Heer erken en bely, des te meer word die volle ruimte van Sy heerskappy vir ons ontsluit.

Barth, Bonhoeffer en andere het natuurlik ten sterkte te velde getrek teen die “Nazi Teologie” wat hoogty gevier het in sy tyd. Dit is te sien in die Barmen-verklaring van Maart 1934 waarin dit direk gestel word dat Jesus Christus die Bron van openbaring is en dat HY die Hoof oor alle aspekte van die lewe is en nie ‘n “Führer” as God se gevolmagtigde nie. Dit het ook daartoe bygedra dat Bonhoeffer al sterker kant gekies het teen die wanopvattings van “Nazi-teologie”. Soveel so, dat hy selfs oorgegaan het van ‘n passiewe na ‘n aktiewe verset.  Uiteindelik het dit hom sy lewe gekos.

Ons as kerk in die jaar 2021, in die tyd van ‘n ander oorlog, nl. die Covid-19 pandemie, kan opnuut by Bonhoeffer gaan kers opsteek. Ons moet onsself dalk weer afvra:  Maar wat is ons “cantus firmus”? Dalk sal ons ook by die vraag uitkom: “Wie is Jesus Christus”?  Dit sal ons dalk weer opnuut in verwondering laat stilstaan voor die Christus wat steeds die Hoof van alle aspekte van die lewe is. HY, wie se heerskappy oor die ganse heelal en selfs verder strek, as wat ons ons kan indink.

Ons sal ons onderlinge geskille egter so ‘n bietjie moet opsy skuif en ons weer moet toewy aan HOM wat in die hart van die evangelie staan, nl. die opgestane lewende Christus. Moontlik vra dit dat ons ook minder religieus sal wees en selfs dalk A-religieus, soos wat Bonhoeffer in sy brief aan Bethge skryf met die doop van sy peetkind. Dit vereis natuurlik dat die kerk ‘n nuwe taal sal moet praat, nl. opstandings-taal, Christus-taal, wat vir die wêreld verstaanbaar gemaak word deur dit wat ons doen en verkondig. Voorts beteken dit dat ons weer besig sal raak met dit waarvoor die kerk geroep is, nl. “gebed en goed doen” soos Bonhoeffer dit self stel. 

Stoffel Hellmuth

Voorblad-foto's oorgeneem