Blog

Beskouing oor Falling upward deur Richard Rohr

 18 Jun 2021  Magdaleen du Toit   Mediateek

Ek het etlike jare gelede op aanbeveling van ’n vorige spirituele begeleier kennis gemaak met Richard Rohr en Falling upward. Ek het die boek intensief bestudeer en onderstreep en aantekeninge gemaak, en dis een van die boeke in my lewe waarheen ek telkens terugkeer en waaruit ek weer en weer wysheid put – en telkens in ’n ander kleur onderstreep namate ek nuwe waarhede daarin ontdek!

Die rede waarom ek so aanklank vind by Rohr se siening van die twee helftes van die lewe, is omdat ek dié twee helftes so intens in eie lewe en aan eie lyf beleef. Dis asof daar ’n Krag is wat my telkens weer uit die “container” van ego, identiteit, vastigheid, sekerheid en sekuriteit skud. Dit moet seker as genade beskou word, maar dis ’n moeilike proses as ’n mens nie vaste punte het aan die hand waarvan jy betekenis aan die ervarings kan gee nie. Dit is om daagliks op water te loop. Rohr bied in Falling upward hierdie vaste punte wat ʼn mens help om sin en sekerheid te vind in die stroopproses.

Ek het reeds my storie van afstroping vertel by die aanvang van die kursus, dus gaan ek nie weer daarna verwys nie, behalwe om te sê: dit is so ’n meedoënlose proses dat ek noodwendig moet aanvaar dit is bedoel vir groei. ʼn Mens voel uiteindelik amper bevoorreg om op so ʼn vlak uitgedaag en getoets te word, en te beleef dat daar groei is in insig, begrip en aanvaarding, dat daar ʼn geestelike veerkragtigheid ontstaan, ʼn vermoë om te relativeer en uit die paradoks te leef.

In die Westerse samelewing geld ʼn “eerste-helfte-van-die-lewe”-kultuur, sê Rohr, wat grootliks gaan oor suksesvolle oorlewing (met die klem op prestasie en sukses). Soos in die Odusseus-mite, wat Rohr as ʼn begrondingsmite beskryf, is daar by die reisiger in die eerste helfte van die lewe skaars ʼn bewussyn dat daar ná die uitdagings van die eerste reis nog ʼn tweede reis voor lê, dié keer met slegs ʼn roeispaan na die vasteland (simbolies van ʼn groter realiteit).

Richard Rohr praat van die taak binne-in die taak. Die ‘buitenste’ taak is bedoel vir oorlewing: die vestiging van ʼn identiteit, tuiste, verhoudings, vriende, gemeenskap, sekuriteit – die bou van ʼn behoorlike platform vir ʼn mens se lewe. Dit is eers wanneer ʼn mens begin aandag gee, sê hy, en integriteit soek in die taak binne die taak, dat ons begin beweeg van die eerste na die tweede helfte van ons eie lewe. Integriteit het grootliks te doen met die suiwering van ons intensies en eerlikheid oor ons motiewe. Dit is harde werk, en gewoonlik gee ons nie aandag aan daardie innerlike taak totdat ons die een of ander soort “val” of mislukking in ons uiterlike lewenstake beleef nie. Dit is na my mening een van die belangrikste take van die spirituele begeleier: om die begeleide te help om die skynbare mislukkings as genade te beleef, en om kreatief met daardie paradoksale genade om te gaan. Om te verstaan dat die ou wynsakke skeur omdat dit nie die nuwe wyn kan hou nie. Om te help om die hoop lewend te hou. Om iemand te begelei na ʼn nuwe ligtheid.

Bertrand Russell gebruik die metafoor van ʼn rivier om die wyse waarop die ego in iets groters opgelos en opgeneem word, te beskryf. Dit is soos ʼn filmskoot wat uit-‘pan’:

Make your interests gradually wider and more impersonal, until bit by bit the walls of the ego recede, and your life becomes increasingly merged in the universal life. An individual human existence should be like a river — small at first, narrowly contained within its banks, and rushing passionately past rocks and over waterfalls. Gradually the river grows wider, the banks recede, the waters flow more quietly, and in the end, without any visible break, they become merged in the sea, and painlessly lose their individual being.

Ek is dankbaar vir Rohr wat my help om betekenis aan ervarings te gee; ek is dankbaar vir my opleiding in spirituele begeleiding wat hierdie betekenis bevestig; en ek sien uit daarna om as begeleier ook ander mense te help om betekenis te vind in hul stropingsprosesse.

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.
Nuutste Artikels