Blog

Belhar en die fencing van die nagmaal

 27 Aug 2021  Dr Martin Laubscher   Verbi Divini Minister

Ons vier nagmaal in die gemeente, en die dominee het besonderse moeite gedoen met die liturgie. In plaas van die gebruiklike formulier, word daar vrylik en keurig omgegaan met die “belydenisskrifte” soos ons die tafel nader. Ek wens meer van my studente was hier om dit te kan aanskou en te sien “dit is hoe ʼn mens dit kan doen”. Liturgiese kreatiwiteit wat werk met die gawes van die kerk in ons gesamentlike aanbidding van God. Buiten die drie formuliere van eenheid wat weerklink soos ons gereed maak om die liggaam van Christus te onderskei met die aansit aan die tafel, hoor ons ook frases vanuit Belhar se artikels 2 en 3 in verband met die eenheid en versoening wat leef in die Christelike geloofsgemeenskap. Dit is egter op daardie oomblik dat een van ons broers opstaan in die erediens, oorstap na een van die ander predikante in die gemeente, sy beswaar aanteken oor die gebruik van Belhar, en homself toe maar liefs verskoon van die tafel deur uit te stap by die erediens, nog voor ons kon aansit, natuurlik ten aanskoue van almal daar teenwoordig.

Vir ons broer is Belhar nie ʼn amptelike belydenisskrif van die gemeente en breëre kerkverband waaraan ons behoort nie, daarom kan dit klaarblyklik ook nie deel hê aan die feestelike tafelgemeenskap nie. Gelukkig gaan die erediens voort sonder enige verdere voorvalle, met wydverspreide waardering wat weerklink ná die tyd vir die sinvolle liturgie waarin die gebroke volheid van die liggaam van Christus met besondere deernis en wysheid onderskei kon word. Die stof wat ons broer egter opgeskop het, hang daarna vir weke nog in die lug. Die belydenisskrifte is afgestof, maar daar word stof opgeskop, en ek kan nie help om te wonder of die tragiek nie dalk juis vir ons sinvolle stof tot verdere nadenke bied waarmee ons saam kan besin oor wat nou eintlik gebeur wanneer ons in die NG Kerk vandag nagmaal vier nie. Dit is uiteraard tragies wat hier gebeur het, en tog het die verleentheid en skaamte dalk ook die potensiaal om die gesprek oop te maak, nie soseer vir nog ʼn debat met ʼn uiteindelike ja-of-nee stem oor Belhar nie, maar wel of ons met die nodige geestelike volwassenheid en aanvoeling die liggaam van Christus (waaroor die belydenis dit het) daar aan tafel kan onderskei.

Die tergende en wesenlike vraag ná die tyd is inderwaarheid hoe nou gemaak met ons broer wat homself van die fees verskoon het. Op dié punt kan ek nie help om te wonder of hy nie dalk, vreemd genoeg en hoe jammer dit ook al is – waarskynlik onbewustelik en sonder om dalk eens te besef – die regte ding gedoen het nie? Ek wil hom allermins só sterk in sy kwaad, maar vanuit ʼn sekere hoek moet ek hom hier tog ook ter wille wees. Kan ek regtig die nagmaal vier en dan heimlik ook “nee sê” vir die Belhar Belydenis? Hoe langer ek daaroor nadink, hoe meer besef ek net “die antwoord is ‘nee’”; dit kan tog nooit die drywende oogmerk en bedoeling van die nagmaal wees nie. Besef ons broer dan nie dat Belhar nie ʼn teoretiese teks en a-historiese geskrif is waarmee ons sitkamer-teologie bedryf nie, maar versinnebeeld soveel name en gesigte van ons eie bloedfamilie in ons onmiddellike konteks? Vra die viering van die nagmaal nie altyd implisiet en deurgaans ʼn dringende soeke en smagtende verlange na groter eenheid, versoening en geregtigheid in die kerk van Christus nie? Dwing die nagmaal ons nie keer op keer, eintlik week na week, om die liggaam van Christus opnuut weer te bly onderskei en duidelik Belhar (en al die susters en broers wie dit verteenwoordig) as ʼn regmatige deel van die liggaam te erken, aldan nie? Kortom, ek kan nie help om te wonder of, as die wesenlike volheid van Christus se gebroke liggaam my dan werklik so teen die bors stuit, moet ek myself dan nie maar tereg liefs eerder verskoon van die feestelike tafelgemeenskap nie, voor ek inderwaarheid ʼn oordeel oor myself eet en drink nie? (vgl. 1 Korinthiërs 11:27-29)

Dit is presies waarop George Hunsinger (2008:256) wys in sy belangrike boek, The Eucharist & Ecumenism – Let us Keep the Feast, wanneer hy die volgende kommentaar op daardie bekende teks verskaf: “… the ‘unworthy partaking’ was not a matter of inward disposition or general moral behavior, but precisely a matter of communal behavior in the Eucharistic assembly.” Dit gaan in wese nie hier om die een of ander morele individuele misstap wat jou weerhou van die tafel nie, maar of jy werklik die name-en-gesigte, vlees-en-bloed, van mense in die liggaam van Christus kan erken as bloedfamilie in die toeëiening van jou plek in daardie liggaam/tafel. Onderskeiding van die liggaam van Christus het dit tog ten diepste nie om skeiding en geskeidenheid daarin nog verder te wil bewerk nie, maar veel eerder die teendeel te soek. Ons word geroep om die liggaam te onderskei, menende die wydte en diepte van al die huisgenote daarin te erken en te omhels. Anders gestel: Ons word geroep, nie om onversoenbaarheid as leer en evangelie aan te hang nie, maar veel eerder juis die feit en werklikheid dat God in Christus alle skeidsmure, vervreemding en vyandigheid vir ons afgebreek het – en ʼn nuwe mens en gemeenskap daar vir ons gestel het. In die woorde van David Ford (in Self & Salvation: Being Transformed, 1999:269) kom dit myns insiens tereg hierop neer: “There is a sharp note of exclusion, but it is one that follows from the inclusiveness. The excluded are those who cannot bear God’s generosity and will not imitate it.”

Of ons dit nou besef of nie, Belhar span inderdaad tog ʼn veiligheidsnet om ons tafels. Belhar sal die NG Kerk se tafels altyd bly “fence”, of ons dit nou wil weet of nie. Die blote feit dat ons dit nie altyd eksplisiet sê nie, beteken allermins nie dit is weliswaar teenwoordig nie. Dit mag dalk “nog nie” ʼn belydenisskrif wees wat ons amptelik aanvaar het nie, maar wie kan ontken dat die nagmaal ons dring om in hierdie konteks luid en onomwonde “ja” te sê vir Belhar? Wie vier die nagmaal en smag dan nie ook na groter eenheid, versoening en geregtigheid in ons wêreld vandag nie?

Die tragiek-maar-dalk-ook-wins van die voorval is nie net ʼn eenmalige uitstap op die nagmaal en liggaam van Christus nie, maar die oënskynlike diepgaande en blywende aard, wat meteens ter sprake kom. Deur al die stof-opskoppery mag ons dalk net meer vaste grond onder ons voete kry soos ons saam opnuut weer die tafel nader. Anders gestel: As jy dan jouself hier op die punt in die besonder wil verskoon, verskoon jy dan nie ook maar jouself blywend in die algemeen (tot verdere kennisgewing) nie? As jy jouself hier en nou wil losmaak van die liggaam, nie die liggaam van Christus in sy volheid kan onderskei nie, doen jy dit dan nie ook maar later en by ʼn volgende geleentheid nie? Dit gaan tog nie om Belhar per se nie, en of die liturgie by name daarna verwys of nie (alhoewel ons duidelik sien dit is belangrik), maar om die onderskeiding van die lewende liggaam - en as jy dit nie nou en hier kan onderskei nie, hoe dan later?

Miskien het ons self skuld aan ons broer se self-gekonstrueerde uitsluiting in die sin dat ons soms die eenheid van die gemeente voorhou as iets anders as die eenheid van die liggaam van Christus. Kan ons werklik eenheid van die een voorhou sonder enige verband of verbondenheid met eenheid wat ook elders manifesteer? Die beliggaming van die een roep en impliseer tog die beliggaming van die ander, en ook omgekeerd. Net soos daar nie sprake kan wees van twee (of nog meer) soorte eenheid nie, net so is die eenheid ook nie iets selfstandig en losstaande van die geregtigheid en versoening nie. Die wyses waarop die eenheid vergestalt, is bedoel om onlosmaaklik verbonde te wees aan mekaar – en juis daarom kan daar ook geen sprake wees van eenheid sonder versoening en/of geregtigheid nie. Daarom kan ons tog nie ter wille van “die swakheid van sommige” die beswaar akkommodeer nie, so ʼn oënskynlike eenheid in die gemeente probeer handhaaf, en eintlik die groter eenheid binne die liggaam van Christus opgee, vervlak en/of valslik voorhou.

Miskien moet ons minder so “vanuit die bloute” hoor van Belhar by die nagmaal. Ja, minder tevrede wees met die krummels van Belhar wat soms van die tafel val, en veel eerder op ʼn meer gereelde grondslag in die erediens as sodanig biddend daarmee begin omgaan. Belhar se inhoud het dit om die bediening van die Woord – en soos in dié geval, veral die sigbare Woord. Belydenisskrifte is tog ten diepste nie vir debat en polemiek geoormerk nie, maar eintlik bedoel om ons te skool in gebed en vervolgens te voed in die Christelike lewe wat soekend bly na geleenthede om die eenheid, geregtigheid en versoening wat God in Christus vir ons bewerk het, te beliggaam.

Kortom, in die bekende woorde van Martinus Versfeld se Food for thought, “nothing is more indicative of what you are than your food and table customs.” Kos en tafels bly eenvoudig van die kragtigste merkers van wie ons eintlik is, deurdat dit konkreet wys met watter soort van gastelyste en tafelmaniere ons identifiseer en leef. Kos en tafels beliggaam wie ons is. Vervolgens stroop en ontbloot die nagmaal die Christelike geloofsgemeenskap gewis; wys dit tereg op allerlei geraamtes en stoflike onderrokke wat uitsteek; maar terselfdertyd ook dat dit met vrymoedigheid uitgetrek kan word (vanweë sy plaasvervangende uittrek en aantrek daarvan), sodat ons opnuut met Christus se liggaam beklee kan word en sodoende as eregaste kan aansit by die lang tafel en voortgaan om ontvanklike gashere-of-gaste te wees by allerlei ander tafels gedurende die week. Belhar as fence rondom die nagmaal bevry ons juis vanuit selfopgelegde koue isolasie en bittere gevangenisskap, en bring ons in die reine en oopte van groter stigtende gemeenskap met die een lewende liggaam van Christus.

Nuutste Artikels