Blog

After whiteness?

 3 Dec 2021  Dr Martin Laubscher   Verbi Divini Minister

Saam met ʼn paar kollegas lees en herkou ons die afgelope weke aan Willie James Jennings se After Whiteness – An Education in Belonging (Eerdmans, 2020). Die begrip “whiteness” mag lesers dalk onmiddellik orent laat sit, en/of sommer net afsit, en daarom is die “after” wat dit voorafgaan myns insiens so belangrik. “After whiteness” is ambivalent, dubbelsinnig; eintlik meervoudig in betekenis. Dit alreeds (hoop ek!) laat jou aanhou lees, want die betekenis en implikasies hieraan verbonde is nie so voorspelbaar, eenvoudig en eensydig soos sommige mag dink nie. Daar is meer as een, selfs meer as twee “afters” in Jennings se “after whiteness”. Daar is ten minste drie sinne waarin ek dink én hoop ons dit sou kon hoor.

Eerstens is daar moontlik dié wie regtig “after whiteness” passievol omhels en uitleef – maar, ek moet bysê, dikwels sonder dat hulle dit eens besef. So is ek dan “after whiteness” sonder dat ek eintlik iets daarvan weet, want in my wêreld is almal en alles wit. Of, dalk nog beter en raker gestel: Dit is net ék (en mý mense; mense soos ék) wat hulself “kan kom staan en wit hou”. Meestal is dit dan eintlik mense wat die term bloot bewustelik verwerp (lees: misken), en so salig onbewus (lees: in ontkenning) leef van waaroor dit eintlik gaan in die gesprek. Daar word dikwels dan sommer net aangeneem dit is wat “whiteness” beteken, en vervolgens luister/lees ek nie eens verder nie (of gebruik ek dit na willekeur soos dit my agenda sou pas). Daar is met ander woorde geen (verdere) meriete en (ander) moontlike waarin “after whiteness” nog sou kon bestaan nie, en daarom is dit eintlik nie nodig om enigsins verder daaroor te praat nie. Denial is hiervolgens nie net ʼn river in Egypt nie (maar ook ʼn “salig” onbewuste staat van whiteness). Nie net is daar ontkenning van die diskoers (en die meriete daarvan) nie, maar uiteraard ook enige insig in terme van wat dit aan my (en natuurlik ander) se menswees doen. Om jouself te kom staan en wit te hou, is primêr, in die eerste plek, net te vanselfsprekend, sodat ʼn verdere gesprek hieroor nie nodig is nie. En in die proses word nie net whiteness ontken nie, maar ook die nadelige effek daarvan op jou eie gesondheid (heil en saligheid).

Daarom benodig ons ook die tweede sin waarin dit gehoor en gebruik kan word, naamlik die kritiese bewuswording, uitwysing, en eintlike ondervraging daarvan. Wie weet wat die kanker van “witheid” aan mense (self en ander) doen, kan nie anders as om met ʼn bepaalde sensitiwiteit en antenna dit te begin uitwys en onder woorde te bring nie. En moenie die uitdaging onderskat nie, want die wyse waarin dit vergestalt en voorkom, is dikwels gesofistikeerd (is immers “wit”), glibberig, en ontwykend. Vir Jennings is “whiteness” die volgende:

“White self-sufficient masculinity is not first a person or a people, it is a way of organizing life with ideas and forming a persona that distorts identity and strangles the possibilities of dense life together … ‘whiteness’ does not refer to people of European descent but to a way of being in the world and seeing the world that forms cognitive and effective structures able to seduce people into its habitation and its meaning making” (8-9). 

Anders gestel: Witheid kan nogal in ʼn verskeidenheid van kleure voorkom. Daar is inderdaad skakerings van witheid. Dit is nie so voorspelbaar en eenvoudig soos wat jy dink nie. Wit is nie noodwendig leliewit nie. Of, die spreekwoordelike “olifant in die kamer” is nie noodwendig ʼn “wit olifant” nie; en die “noise” in en rondom ons, is nie noodwendig “white noise” nie. Die ergste vorme van geweld kom dikwels in die subtiele vanselfsprekende na vore; dit wat (moet, maar) nie sommer bevraagteken kan word nie. En juis daarom is die kritiese gewaarwording (“consciousness about whiteness”) so belangrik, want enige persoon kan die soort van koloniale projek bly voortplant.

Dit bring ons “natuurlik” (gesê met ʼn knippie sout, want ek bedoel eintlik met bloedsweet) by die derde moontlikheid waarin ons ook/eintlik “after whiteness” wil bedink, naamlik dat daar iewers ook bevryding en heling is vir ʼn lewe verby en anderkant die staat van witheid as sodanig. Ons kan inderdaad ons gedeelde menswees erken, herken, ken, en selfs beken. Kennis van whiteness wil eintlik met ander wees en behoort. Of, soos Jennings dit stel, dit gaan hier oor “returning to an intimate and erotic energy that drives life together with God ... we are erotic souls” (11). Die derde sin van Jennings se titel is dus nie post-koloniaal nie, maar dekoloniaal – en tog gebruik Jennings nie daardie terme nie, want ten diepste gaan dit vir hom om teologie – innige en egte gemeenskap met God, mens, en die res van die skepping.

Kortom, ek is after whiteness, want die derde en laasgenoemde sin interesseer en roep my. Hoe aantreklik en voorop die derde-en-laaste (en in die geval ook die belangrikste) gebruik van “after whiteness” dan ook al mag wees, staan dit nie los van die voorafgaande betekenisse nie. Anders word dit weer net te eenvoudig, oppervlakkig, en vanselfsprekend (en eintlik te “wit”). Die intieme gesprek met laasgenoemde impliseer onafwendbaar ook (kritiese) gesprekke rondom die voorafgaande moontlikhede waarin die titel/frase gehoor kan word.

Daarom, gedagtig aan Nathan Trantraal se 2018 teks, Wit issie ʼn colour nie (Kwela Boeke), moet ek dalk ook erken en rekening hou met die feit dat wit nie net nie ʼn kleur is nie, maar dikwels ook (en vir sommige juis!) as ʼn preek kan vergestalt. In Trantraal se eie woorde:

“Ek haat ie mense met blonde hare nie. Ek haat ie mense met ligte vel ie. Ek haat ie mense met blou oë nie. Ek haat ie colours ie. Ek haat wit. Wit issie ʼn colour nie, wit isse religion” (66).

Mag ons hierdie Adventstyd dan ook só “after Advent” wees, dat die groter kritiese bewuswording en introspeksie heimlik op Immanuel se koms en nabyheid sal dui. Godsdiens en prediking mag dalk soms as whiteness vergestalt, maar Hý is dit beslis nie. Trouens, Hy kom omrede Hy ook “After whiteness” is.

Nuutste Artikels