Blog

Adrie Potgieter – ’n nuwe vonk in ons vuur

 20 May 2022  Mev Mariëtte Odendaal   Leer ken die Moderamen

Dit was maar so onlangs as dertig jaar gelede (en ’n rapsie) dat die NG Kerk dit vir die eerste keer gewaag het om vrouepredikante te begin orden. Waarom dit voorheen as nie-wenslik beskou is, bly vir ons skoner geslag steeds ’n raaisel, maar nou ja, intussen het daar baie water in die see geloop (of moet ons eerder sê, intussen het dié vonke ons vure hoër laat vlam) en besef ons gemeentes al hoe meer die waarde van vroue in die amp.

Na die tragiese afsterwe van dr Carin van Schalkwyk, vorige sekretaris (en welkome vrouestem) op die Interimkomitee van die NG Kerk Vrystaat, ’n dag voordat die sinodesitting in Maart vanjaar sou begin, was die verkiesing van ds Adrie Potgieter as addisionele lid ’n wyse toevoeging tot die sinodale leierskap.

Adrie is in murg en been ’n Vrystater. Sy is in Virginia gebore waar haar pa vir 42 jaar op die myn gewerk het (hy het verlede jaar afgetree) en haar ma grotendeels ’n tuisteskepper was.

Vra jy haar wie die grootste invloed op haar vormingsjare as kind gehad het, antwoord sy: “Ongetwyfeld my ouers. Hulle voorbeeld as harde werkers en hul nederigheid en volgehoue ondersteuning aan my het ’n onuitwisbare indruk op my as kind gemaak."

“In my laerskooljare het daar ’n groot verandering in ons gesin-dinamika gekom, veral in terme van die pad wat die Here met my pa en gevolglik ook ons as gesin gestap het. Dit was asof ons van toeskouers na deelnemers verander het. Ek kon sien hoe die Here ons gesinslewe verander en wat dit prakties beteken om ’n kind van die Here te wees, veral deur die voorbeeld wat my ouers aan ons gestel het. Ek onthou hoe ek saans saam met my pa die eredienste bygewoon het, maar omdat daar so min mense was, het ons dan sommer in die konsistorie kerk gehou. Ek was altyd die enigste kind tussen al die grootmense. My pa sou my dan ná die erediens vra wat ek gedink het van die boodskap; ons kon soms vir ure daaroor sit en gesels.”

So, hoe het dit gebeur dat Adrie besluit het om predikant te word? “Ek onthou nog so goed hoe ek en my pa een oggend vroeg in die kerk gesit het (my ma was ’n diaken) toe die dominee inkom en by die preekstoel solank sy notas regkry voordat die diens sou begin en my pa my vra of ek nie dink dat ek dalk ’n dominee moet word nie,” vertel Adrie. “Toe hy vra of ek dink ek sal dit kan doen, het ek net gelag en ewe gesê: ‘Nee wat, ek dink nie dit kan so moeilik wees nie.' Min het ek toe geweet!”

Van toe af het hierdie moontlikheid in Adrie se gedagtes begin rondmaal. Tydens haar Graad 11-jaar se belydenisklas het sy ook die Here en sy Woord op soveel nuwe maniere ontdek. “Dit het my baie opgewonde gemaak oor teologie,” vertel sy. “Ek het wel eers aansoek gedoen om fisioterapie te gaan studeer met teologie as tweede opsie, maar twee weke voordat ek universiteit toe moes gaan, het ek besef dat dit nie eintlik is wat ek wil doen nie; ek wou eerder teologie gaan studeer – iets waaroor ek nog nie een dag spyt was nie.”

Adrie het haar BDiv in 2018 aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en daarna, in 2019, haar MDiv. Haar studie het ’n missionale ondersoek behels met die onderwerpstitel as Evangelisasie in ons tydsgees met verwysing na sosiale media. In 2020 het sy haar Nagraadse Diploma in Teologie behaal en is in November daardie jaar as proponent gelegitimeer en in dieselfde maand ook getroud!

“Sedert 2021 het ek elke naweek as aflosprediker by gemeentes uitgehelp,” vertel Adrie, “en die Vrystaatvlaktes platgery na al wat ‘n dorp is. In September 2021 is ek toe as predikant van die NG Kerk Senekal-Noord bevestig waar ons met ope arms deur die ongelooflikste plattelandse gasvryheid verwelkom is. Hier waai almal vir mekaar in die verbygaan – of jy nou die persoon ken of nie. Ek hoor ook hier gereeld: ‘Jy huil net twee keer in Senekal – wanneer jy hier aankom en wanneer jy weer weggaan’.” 

Vra jy haar watter insigte sy uit die ervaring van haar kort loopbaan tot dusver met voornemende predikante kan deel, antwoord sy as volg: “Beskou elke oomblik as 'n leergeleentheid. Behou altyd ’n leergierige gees en stap altyd in ’n situasie of geleentheid in met die vraag ‘Wat kan ek hieruit leer?’ in plaas van ‘Wat kan ek ander leer?’.  Elke oomblik en elke persoon voor jou bied ’n geleentheid om iets te leer. Dit is belangriker om te luister eerder as om te praat. Mense het 'n behoefte om gehoor te word – so, luister met nederigheid en resprek, ongeag wie voor jou staan.”

Om predikant te wees, verg baie wysheid en insig; mens moet maar dikwels gaan kersopsteek by ander se werk. Vra jy vir Adrie wie se werke haar help insig gee en menings help vorm en waarom juis hulle, antwoord sy as volg: “Ek het die voorreg gehad om by wonderlike belese dosente te kon leer, soos proff JA van den Berg, W J Schoeman, R Venter, DF Tolmie en drs. L Sutton, M Laubscher en H van der Westhuizen – almal kenners in hul veld. Hulle het my aan soveel verskeie mense se werke blootgestel; iets wat my insigte baie verbreed het. ’n Mens moet nooit ophou lees nie – lees selfs die werke van mense van wie se menings jy verskil – dit gee altyd meer insig.

“Ten opsigte van ons kerkgeskiedenis resoneer ek nog altyd baie sterk met die werk van Dietrich Bonhoeffer. Een van sy aanhalings uit Papers and Letters from Prison wat vir my baie beteken, is The Church is the Church only when it exists for others … not dominating but helping and serving. It must tell men of every calling what it means to live for Christ, to exist for others. Dit sluit ook aan by my droom vir die kerk."

“Verder dink ek ook dit is baie belangrik om as jong predikant goeie mentors te hê; iemand met wie jy met vrymoedigheid openlik en onbevange kan gesels. Ek is diep dankbaar vir die verskeie mentors in my lewe wat altyd bereid is om te help.”

Op die vraag wat Adrie as uitdagings op die Interimkomitee beskou, antwoord sy as volg: “My verkiesing as addisionele lid was ’n groot verrassing. Ek het dit glad nie op my eerste sinodesitting as predikant verwag nie. Ds Jan Lubbe het my egter vanuit sy eie verkiesingservaring gerusgestel en my aangeraai om net die proses te vertrou. Dit het my baie kalmte gegee. Ek sien uit daarna om hierdie termyn saam met Leon, Dawie en Jan te bid, te werk en te groei. Ek beskou nie my posisie as ’n uitdaging nie, maar wel as ’n gulde geleentheid om by baie begaafdes te leer en deel te wees van die gesprek.”

In kerkwees is daar noodwendig sake wat mens opgewonde, maar ook bekommerd maak oor die uitdagings wat vir die volgende geslag predikante voorlê. Hieroor is Adrie se mening as volg: “As deel van die volgende geslag predikante sien ek baie daarna uit om saam met hulle te dink, te droom en te werk. Die kerk is nie dood nie, maar die manier van kerkwees verskil van hoe ons die kerk 30 jaar gelede geken het. Ons moet ook nuut kan dink oor kerkwees in ons tyd en konteks."

“Ons het nuwe, vars insette van die volgende geslag predikante nodig; mense wat hul nuwe konteks kan lees en verstaan. Hulle moenie dit as ’n bedreigende uitdaging beskou wat ten alle koste verhoed moet word nie, maar dit as nuwe geleenthede aangryp om verder te ontgin en nuwe insigte te ontdek."

“Wat my wel bekommer, is die dalende getal teologie-studente in die NG Kerk. As predikante moet ons vanuit ons gemeentes, daar waar ons met jongmense werk, deur ons liefde vir die Here en ons naaste, hulle inspireer."

“My droom vir die kerk in die Vrystaat en ook vir Suid-Afrika is dat ons werklik inklusiewe gemeentes sal wees wat vanuit die liefde van Christus sal leef en daaruit grondvlak-diensbaar in ons gemeenkappe sal wees; dat ons mekaar sal inspireer, mobiliseer en ondersteun."

“Om daarby uit te kom, moet ons nuwe ruimtes skep waar mense ook deelnemers van hul geloof kan wees en nie net toeskouers nie – nuwe ruimtes waar mense 'n ontmoeting met God kan hê en na mekaar kan luister, maar dat ons ook sal onderskei en luister na die ruimtes waar ons dalk oor grense heen moet inbeweeg, veral oor ons eie grense heen.”

Adrie het onlangs kitaar begin speel en sien daarna uit om dit baas te raak. Sy is ’n fynproewer as dit by goeie koffie en wyn kom; sy is ’n wynversamelaar. Boeklees, kuier om ’n kampvuur met hartsvriende en staproetes in die natuur is enkele van haar ander passies.

Sy is getroud met Evert Potgieter, ’n finansiële adviseur vir Old Mutual. Hul diere-kinders is Junior (’n Yorkie) en hul twee katte, Luna en Chloe.

Mag jou vure hoog brand en die vrouestem in ons leierskap groot seën bring vir die NG Kerk in die Vrystaat, Adrie. 

Foto deur Tertius Botha: Ds Adrie Potgieter, Interimkomitee: Addisionele lid

Nuutste Artikels