Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Bloemfontein se noordelike stortingsterrein dink GROEN

There will come a time when only those who are able to plant, will be able to eat …

Verbeel jou ’n welige groetetuin by ’n stortingsterrein … jy sien berge van plastiek, wapperende papiere en geroeste blikkies, maar aan die voet daarvan ’n groen oase van lewe en hoop. As dít jou nie opgewonde maak nie, gaan min dinge jou laat glimlag.

Thabo Olivier, bekende stigter van Let’s Grow Food, asook groente-dosent, se Facebook-intro som sommer dadelik sy passie op: Creating a community of citizens who are passionate about South Africa, health, RESILIENCE, and FOOD.

En watter mens wat ook droom daaroor om mense se lewensomstandighede te help verander wil nou nie saam met so ’n entoesiatiese man-met-planne in dieselfde juk trek nie? En dis presies wat die NG Kerk Sinode Vrystaat gedoen het.

Maar ons loop nou die storie vooruit. ’n Mens moet darem eers weet wie jou vennoot is, so ons het by Thabo self gaan hoor waarom en hoe hy op dié pad beland het.

Thabo vertel: “Ek het in 2010 in een van Bloemfontein se oudste plakkerskampe in Mangaung gaan woon om sodoende die Vrystaat se Provinsiale Regering te probeer dwing om dié informele nedersetting te formaliseer. Dit beteken dat daar menswaardige huise vir hierdie mense gebou moes word, aangesien hulle toe al jare lank in haglike omstandighede gewoon het.

“Nadat dit geformaliseer is, was die mense baie dankbaar oor hul woonomstandighede wat soveel beter was. Die hoë werkloosheidskoers het egter beteken dat baie mense steeds sonder werk was, net ’n karige inkomste verdien het of net van ’n staatstoelae afhanklik was. Die mense was honger.

“Toe ek hulle aanmoedig om groentetuine te begin aanlê, het ek gou gehoor dat hulle nie weet hoe nie. Ek het my toe begin toespits op die opleiding van groenteverbouing aan belangstellendes op die goedkoopste manier moontlik. Ons het begin soek na herwinbare materiaal op stortingsterreine en daarmee groentetuine begin aanlê. En hier is ons steeds, dertien jaar later!”

So, hoe het jy toe by die NG Kerk Vrystaat begin betrokke raak?

“Ek is uit die bloute in 2022 deur ds Barnard Steyn genader,” vertel Thabo. “Hy het van my projek en werk gehoor en wou hê ek moes ’n voorlegging daaroor doen aan die bestuur van die NG Kerk Sinode Vrystaat. Op daardie stadium was die sinode dringend op soek na projekte waarby hulle kon aansluit om die lewensomstandighede van mense wat by die noordelike stortingsterrein van Bloemfontein woon, te help verbeter as deel van hul uitreikprogram.

“Dit was soos musiek in my ore! Elke dorp of stad het ten minste een of meer stortingsterrein met meestal haglike omstandighede. As hiérdie projek dus kan slaag, sal dit ’n bloudruk kan vorm van ander soortgelyke projekte in die toekoms ook.”

Wat moet ’n mens in gedagte hou as jy so ’n projek wil begin?

Hierop antwoord Thabo kort en bondig: “Look and learn!” Hy verduidelik: “Voordat jy so ’n projek aanpak, moet die Critical Success Factor (CSF) daar wees. Dit beteken dat mense moet inkoop by die idee; hulle moet besef dat dit nie jou projek is wat hier van die kant af inkom om iets vir jouself te doen nie, maar dat dit húlle projek is. Daardie gemeenskap moet snap hoe dit hulle gaan baat en die eienaars daarvan word.

“Hulle moet ook besef dat hulle hulself moet orden,” verduidelik Thabo verder. “Daar moet byvoorbeeld besluit word wie die kommunikasiepersoon gaan wees, waarom die projek aangepak word, met ander woorde wat die doelwit daarvan is – nie net vir hulle nie, maar ook vir die mense wat die projek bring; ook wat die voordele daarvan vir húlle is.

“Dit is ook van groot belang hóé die projek geïmplementeer gaan word. Dis belangrik om nie vír die mense die projek te doen nie, maar om vir hulle die vaardighede self te leer. Sodoende bou hulle kapasiteit en ontwikkel hulle selfvertroue – transfer the skill.”

Vertel meer van wat julle beplan om op die stortingsterrein te ontwikkel.

“Dit hang van die mense self af,” antwoord Thabo. “Ons wil net vir hulle wys wat gedoen kán word. Hulle is in ’n unieke situasie; al die materiaal wat hulle nodig het, is daar bý hulle; so te sê aan hul voete. ’n Mens sien op die vullishope hoe tamaties en pampoene wild opslaan van sade wat ontkiem uit afval wat vanaf die dorpe en stede daar gestort word.”

Hulle plan is om al die harde voorbereidingswerk nou in die wintermaande te begin doen. “Dis nou die tyd om al die materiaal bymekaar te maak om ’n paar mooi strukture, soos byvoorbeeld tonnels, te begin bou,” verduidelik Thabo. “Ons wil ook baie kompos begin maak. Tuindienste vanoor die hele stad bring landbou-afval na die stortingsterrein wat gebruik kan word om ons komposproses aan die gang te begin kry.

“Dan wil ons ook nou ’n mooi area afbaken en, sodra die kompos gereed is, dit begin inwerk in die grond.

“Dis ook belangrik dat hulle solank die pale, pype, bokse, bottels, ensovoorts moet begin bymekaarmaak en ’n plan uitwerk sodat al die harde werk verby is as die lente kom. Dan kan ons net plant en mooi na die saailinge omsien – reg om voor Kersfees te begin oes!”

Wat is die waardetoevoeging tot so ’n projek?

“Een van die gesegdes op sosiale media wat ek deesdae dikwels opmerk is, There will come a time when only those who are able to plant, will be able to eat … En hierdie kapasiteit is van kardinale belang vir elke mens – om jou eie kos te kan verbou.

“Kyk ’n bietjie wat is die impak van die ekonomie op voedselpryse. Boonop koop ons al hoe meer ongesonde kos terwyl die gesonder kossoorte duurder word.

“Hierdie projek bied nie net voedselsekerheid nie, maar sal ook bydra tot ekonomiese ontwikkeling, want die produsent se oorskot kan verkoop word. Dink net – so onlangs as drie of vier geslagte terug het talle huishoudings hul eie groente- en vrugtetuine gehad.”

So, watter vaardighede is alles nodig om so ’n projek te laat slaag?

“Kapasiteit en selfvertroue,” is Thabo se onmiddellike antwoord. “Dit lei tot volhoubaarheid as jy iemand opgelei en hulle jou nie meer nodig het nie; die persoon kan dan self voortgaan met die proses.

“Sosiale media bied ook oorgenoeg materiaal aan enige iemand wat so iets wil begin aanpak. Gaan kyk gerus na my Facebookblad, Let’s Grow Food, na wenke oor byvoorbeeld hoe om jou eie organiese gifstowwe te maak, sade te laat ontkiem, en nog vele meer.”

Hoe kan ’n mens by so iets betrokke raak?

“Hier gaan LSD (Look, See and Decide) jou help,” antwoord Thabo geesdriftig. “Kyk watter suksesverhale jy raaksien; wat het gewerk? Spring dan self in en pas dit toe – copy and paste! En kry jou kop reg. Die uitdrukking Laat Gods water oor Gods akker loop, gaan jou gemeenskap wat behoeftig is nêrens bring nie – raak betrokke en deel jou talente.

“Ons is navolgers van Christus en daarom word ons deur Hom opgeroep om op die uitkyk te wees vir geleenthede waar en hoe ons ons medemens kan help.”

Kyk gerus ook na hierdie video van Thabo en kontak hom by thabo.olivier1@gmail.com vir meer inligting.

Foto’s Verskaf

Foto links: Thabo Olivier (regs) en Lefa Mononga, voorsitter van die Waste Pickers Association, tydens ’n beplanningsessie by die noordelike stortingsterrein in Bloemfontein.

Foto onder: Ds De la Harpe le Roux bring ‘n boodskap uit die Woord tydens die Vrystaat Sinode se kantoorpersoneel-uitreik verlede jaar

116 | Maatskaplike NOODLYN