Dis ’n nuwe oggend en die lammers, saam met ds. Armach Breytenblaf, is besig om terug te keer ná ’n lekker kerkkamp. “Ahahaha … dit was nou awesome!” roep Tjoppie uit terwyl hulle sak en pak stap na Blêrfontein. Leon glimlag en kyk vir Tjoppie en dan begin hy, terwyl hy stap, wonder. Hy wonder oor vertroue. Hy het juis toe hulle by die kamp was, geleer oor God se wonderlike beloftes vir hom, maar op hierdie nuwe dag toe alles nou bedaar en verby is, begin hy effens twyfel.
“God is so goed! God is wonderlik!” sing Mollie vrolik. Leon kyk na haar en wonder: “Hoekom voel ek nie vandag so nie?” dink hy hardop. Die realiteit is dat ons almal soms bietjie deurmekaar voel ten spyte van die lekker en goeie goed wat gebeur. Leon draai sy koppie skuins en toe kyk hy op na die helder blou lug en die spierwit wolke so asof hy antwoorde soek. Armach kyk terug om te sien of almal nog in sy spoor volg en hy merk Leon se kyk op.
Op daardie oomblik kom hulle by die einde van die veldpadjie aan. “Daarsy, lammers!” roep hy en stop almal. “…Ons is terug en veilig in Blêrfontein. Julle ken die pad van hier af, laat Mamma my net bel sodra julle by die huis gekom het.” beveel hy verder. “Dankie, Dominee!” groet Mollie. “Dit was bevange! Dankie, Oom Armach!” groet Tjoppie. En Leon? Leon staar steeds na die wolke…
“Kom, dromertjie…” roep Armach hom. “Wat kyk jy so?” vra hy vir Leon wat nou probeer om te maak of niks hom pla nie. “Niks nie, Dominus,” antwoord hy kortaf. Armach glimlag. “Kom! Ek stap saam met jou.”
So bietjie verder af in die padjie vra Armach weer, en hierdie keer antwoord Leon. “Hierdie gaan so bietjie vreemd klink…” Armach luister aandagtig. “…maar, hoe kan ons die Herder vertrou?” vra Leon. “Hoe weet ons dat Hy gaan doen wat Hy belowe? Ek weet dit klink simpel, maar vandag wonder ek. Daar… ek het dit gesê!” vertel Leon en sak sy kop effe mismoedig.
Armach bly vir ’n oomblik stil en toe antwoord hy: “Leon, ons weet nie…”
Leon kyk verras op vir hierdie antwoord en op daardie oomblik staan hulle op die voetbrug wat oor die stroompie gaan, op pad na Leon se huis. “Ons weet nie presies nie, en daarin lê die wonder.”
Armach stop in die middel van die brug en tik met sy poot teen die houtplanke onder hulle. “Kyk hierna, my blêr. Toe jy nou net jou pote op hierdie voetbrug gesit het, het jy eers gekyk of al die skroewe vas is? Het jy eers gewonder of die hout dalk gaan breek en of jy in die stroom gaan val?”
Leon kyk af na die water wat vinnig onder die planke deurvloei. “Nee, Dominus. Ek het maar net geloop.”
“Presies,” glimlag Armach. “Jy het vertrou dat hierdie brug jou veilig oor die stroom sal vat. En kyk daar doer, net daar anderkant.” Armach wys met sy snoet in die rigting van Leon se huis. “Jy stap nou huistoe, en jy vertrou dat jou huis nog net so daar gaan wees wanneer ons daar aankom, nê? Jy kan nie een honderd persent seker wees nie – miskien het iemand dit geskuif! Maar in jou hart weet jy dit staan nog daar.”
Leon dink vir ’n rukkie na oor die brug en die huis, en sy koppie draai weer stadig skuins.
“Om die Herder te vertrou, gee vir ons daardie selfde wete,” sê Armach sag en sit ’n poot op Leon se klein skouer. “Vertroue beteken nie dat ons al die antwoorde in ons sak het nie. Dit beteken dat wanneer die pad voor ons onseker lyk, of wanneer ons eie gedagtes vir ons sê dis donker, ons nogtans kies om die volgende tree saam met die Herder te gee. Ons weet dalk nie wat môre bring nie, maar ons weet Wie hou môre in Sy hand.”
Leon kyk na die stewige houtbrug onder hom en toe na die pad wat reguit na sy huis toe lei. Die deurmekaar gevoel in sy lyf begin sommer dadelik minder word. Hy besef dat dit soms moeilik is om te vertrou, veral wanneer dinge om ons en in ons deurmekaar voel. Maar die Herder is altyd daar, en Sy woord… bly altyd waar. Net soos die sterre van gisteraand, en net soos die pad huistoe vandag.
“Ek verstaan.” sê Leon en sy oë blink weer vrolik. “Dis eintlik soos om op ’n brug te loop saam met die Een wat die brug gemaak het.”
“Dit is ’n baie konseptuele… of wag, ’n baie kreatiewe manier om dit te stel, my Blêr!” klink Tjoppie se stem skielik van agter af op waar hy agtergebly het om ’n interessante klip op te tel.
Armach en Leon lag albei lekker terwyl hulle die laaste entjie se pad aandurf. En Leon? Hy het dalk nog gewonder oor baie dinge in die wêreld, maar soos hy saam met Armach Breytenblaf stap weet hy dat die Herder net so saam met hom is en hy het geweet dat sy vertroue op die veiligste plek moontlik is.
Tot volgende keer
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat
Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.
