Skip to content Skip to footer

Dit is douvoordag in die oggendlug, die son kom op oor die rantjie tussen die klanke van die voëltjies se gesang wat die nuwe dag verwelkom. Dis vars en vrolik so vroeg; jy kan selfs nog die krieke hoor wat klaar kriek. Die doudruppels hang nog aan die veldgrasse. Welkom terug in Blêrfontein, maats! En kyk wie kom hier aangestap.

Dit is Leon die lammertjie met sy rugsak op sy rug en hy is nie alleen nie. Hy stap saam met Armach Breytenblaf wat ook ’n stapsak dra, en net agter hulle stap Mollie en Tjoppie. Hulle is op ’n uitstappie. “Hou so aan, jong lamme!” roep Armach Breytenblaf. “Amper daar!”

Dominee Armach Breytenblaf is ’n aktiewe Border Collie en hy het die drie “blêrs” uitgevat op ’n oggendstap vir ’n spesiale les. Hulle stap verby die velde waar Tannie Êna se mooi rooi blomme so natuurlik groei, dan daal hulle af deur die laagtes waar die son gewoonlik sak en deur die ruigtes tot by die rivier. Dit is so 30 minute se stap van die Kerk af.

Toe hulle daar aankom, haal almal hulle stapsakke af. Leon kyk om hom rond. Dit is iets besonders. Hulle staan op die rivierbank – Leon luister hoe die water kabbel. Dan kyk hy verby die rivier en sien die mooiste veldlelies aan die ander kant; hy sien hoë wilgerbome en grasbanke wat in die vertes ingaan en daar doer sien hy Arendsberg. “Sjo…” sug Leon terwyl hy die pragtige uitsig inneem en toe voel hy ’n poot op sy skouer. “Dis mooi nê, my Blêr!” Dis Tjoppie. “Besonder mooi!” antwoord Leon. Dit is sy eerste keer by hierdie mooi plek.

Armach Breytenblaf pak hout vir ’n klein vuurtjie terwyl Mollie die kampketel en blikbekers regkry vir ’n lekker warm drankie. Daarna roep Armach die drie nader. “Kom, lammers! Terwyl ons wag vir die ketel, kan ons so bietjie gesels.” Hy haal sy Bybel uit en hulle almal sit rondom die vuurtjie op houtstompe.

“In die begin…” sê Armach met erns in sy stem, “…was alles woes en leeg. Dit was pikdonker en deurmekaar – sommer net groot chaos.” Hy kyk vir die lamme. “Maar toe begin God werk.” Leon spits sy oortjies en sy koppie draai sommer dadelik skuins. Hy besef dadelik dat dit die Herder se werk is.

 

“God het gesê: Laat daar lig wees! …en dadelik was daar lig!” lees Armach verder. Hy wys met sy poot na die son wat nou helder oor die randjie skyn. “Dit was dag een.”

Hy lees vir hulle hoe God die lug en see geskep het op die tweede dag. Op die derde dag het Hy die land gemaak. Armach buk af en vryf oor die sagte gras tussen sy pote. “En die plante ook, net soos hierdie grasbanke en daardie lelies.”
Op dag vier het die son, maan en sterre gekom. Op dag vyf die voëls wat hulle vroeër hoor sing het, en die visse in die kabbelende rivier. Dag ses was die soogdiere en mense, en op die sewende dag het God gerus.

“Sjoe, Dominee,” vra Tjoppie verwonderd terwyl hy na sy eie krulletjies kyk, “het die Herder al hierdie fyn dinge self beplan?”

“Presies, Tjoppie,” sê Armach en hy kyk elkeen in die oë. “Hier is die ding… lamme! Net soos wat God hierdie skepping fyn beplan het en die chaos in hierdie pragtige orde verander het, net so het Hy jou ook beplan… presies soos wat jy is!”

Leon word sommer stil. Mollie stamp vir Tjoppie met haar elmboog. “Sien jy, Tjoppie? Jou vrolike hart is ook beplan!” terg sy saggies.

“…en elkeen met ’n doel!” maak Armach klaar. “Sjeeeeee…..” fluit die ketel presies op die regte tyd, asof hy saamstem. Die reuk van warm rooibostee vul die lug terwyl hulle die vars beskuit geniet.

Leon gaan staan weer by die rivier en neem alles opnuut in. Hy dink aan hoe sy Herder hierdie besondere natuurskoon uit niks gemaak het. Hy kyk na sy eie klein pote in die gras en besef: “as die Herder soveel aandag aan ’n veldlelie gegee het, hoeveel meer aandag het Hy nie aan my gegee nie?”

“Dankie, Herder…” bid Leon saggies. “Dankie dat U my nie net gemaak het nie, maar my gemaak het met ’n doel.”

Die warm tee het hulle magies warm gemaak, maar die wete dat die Herder hulle beplan het, het hulle harte vol gemaak. Hulle het die res van die dag geniet tot na middagete en toe die pad terug na Blêrfontein toe aangedurf. En Leon? Hy het nie net huis toe gestap nie – hy het gestap met die wete dat hy deel is van ’n groot, pragtige plan… gemaak deur sy Herder.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat

Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(
“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.