Skip to content Skip to footer

Die sonnetjie sak by die kerkkamp na ’n bedrywige dag waar die lammers van Blêrfontein behoorlik besig was met kamp-aktiwiteite. Tjoppie het geseëvier op die hindernisbaan – hy het wel hier en daar in die modder geduik (maar volgens hom was dit “strategies geposisioneer”). Leon het geleer dat hy nie hoef bang te wees vir hoogtes nie, en Mollie was daar om seker te maak almal volg die reëls van die baan tot op die letter.

Dit was verseker ’n lekker dag. “Lammers!” roep Armach Breytenblaf. “Ek kry julle oor ’n uur hier by die vlagpaal – gaan maak skoon, bring vir julle ’n langmouding saam, want daar wag ’n verrassing.” Die lammers het almal hulle ding gaan doen, skoongemaak en opgedaag vir die groot kampverrassing.

Die koue naglug het die kampterrein begin afkoel. Die lammers het aangestap gekom na waar hulle vir Armach sou kry. “Tjopper! Kom pak jy en Leon voor ons ’n vuur,” beveel hy vir Tjoppie toe hy hulle sien. “Mollie, daar in daardie sak is daar iets lekker wat wag,” sê hy vir Mollie. Tjoppie en Leon pak ’n lekker kampvuur wat hoog brand, en Mollie kry in die sak … lekker malvalekkers en kondensmelk!

Nadat hulle vir hulle gepaste stokke gevind het, sit hulle om die vuur, gereed om hulle malvalekkers te braai. Dit is stil, en die natuurgeluide doen hul werk. Die donkerte van die nag begin dik rondom die kampvuur lê.

Leon sit en wonder oor hoe wonderlik die Herder is terwyl hy rondkyk na die skepping in die nag. Toe dink hy aan homself en sy eie toekoms – die wêreld voel skielik baie groot en donker.

Armach sien die kyk in sy oë en haal sy groot Bybel uit sy rugsak. Hy blaai na Genesis 15. Die oranje skynsel van die vuur val op die bladsye.

“Kyk bietjie op, lammers,” sê Armach met afwagting.

Die lammers kyk almal op. Bo die hitte van die vuur lê die naghemel – pikswart, oneindig groot, maar bespikkel met miljoene, flikkerende sterre.

“Sien julle hoe donker dit rondom ons is?” vra Armach. “Soms voel die lewe vir ons ook so. Dit voel donker, onseker, en ons raak bang vir die toekoms. Maar luister wat het met ’n man genaamd Abraham in die Bybel gebeur. Hy was ook bang en alleen in die donker nag. Maar God het hom buitentoe gevat en vir hom gesê: ‘Moenie bang wees nie, Abraham, Ek is jou beskermer.’ En toe sê God iets wat die wêreld vir altyd verander het.”

Armach lees hardop uit die Bybel: “‘Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy dit kan tel. So baie sal jou nageslag wees.’ En Abraham het in die Here geglo.”

Leon se koppie draai sommer dadelik skuins. Hy bedink dié woorde.

“Kyk na daardie sterre,” sê Armach, en sy oë blink. “Dit was nie net flikkerliggies vir Abraham nie. Dit was God se belofte. God het vir hom belowe dat Hy ’n reuse groot familie uit hom sal laat gebore word, en dat God daardie familie nooit, ooit alleen sal los nie. En weet julle wat is die grootste wonder van daardie vertelling?”

Mollie sit dadelik regop, haar oë groot. “Het God presies gemaak soos die reëls van die belofte gesê het, Dominee?”

“Presies, Mollie. Want God kan nie lieg nie. En daardie selfde belofte flits vanaand bo Blêrfontein vir julle. God belowe vanaand vir júlle: Ek is julle Beskermer. Selfs as die wêreld rondom julle donker of bang voel, bly My beloftes so vas soos die sterre aan die hemel. Ek vergeet julle nooit nie.”

Tjoppie staar na die hemelruim, sy malvalekker heeltemal vergeet. “Kyk hier, Dominee … dit is dink ek die mees minalistiese … nee, die mees magtelose … wag, die mees manjifieke ding wat ek nóg gehoor het!”

Armach lag sag. “Dit ís manjifiek, Tjopper. Dit is die krag van God se Woord.”

Leon kyk stil op na die sterre en hy knik. Die donkerte rondom die kampvuur voel skielik nie meer na iets om voor bang te wees nie. As God so getrou was aan ’n man soos Abraham duisende jare gelede, dan is Sy beloftes vandag net so lewendig.

“Dankie, Herder,” sê Leon saggies in sy hart terwyl hy opkyk na die groot naghemel. “Dankie dat U beloftes groter is as my donker.”

Die vuur het later begin kole word en die lammers het ingekruip in hul slaapsakke. En terwyl die koue naglug oor Blêrfontein waai, het Leon aan die slaap geraak met ’n hart vol vrede, wetend dat sy Herder getrou is en altyd, altyd Sy woord hou.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat

Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(
“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.