Die grootste kopskuif wat ek gemaak het, was dat seniorbediening eerder ’n bediening deur as aan seniors kan wees. Hoe gebruik ons egter hierdie gawes, talente, liefde en vermoëns in die samelewing?
Ds Frans Oosthuizen, komiteelid: Gerontologie Netwerk
Gerontologie
Die Gerontologie Netwerk van die NG Kerk Vrystaat is in die lewe geroep met die doelgerigte visie en missie om die Vrystaatse kerk en -samelewing te ondersteun en te begelei in die proses van betekenisvolle veroudering van ons senior lidmate.
Hierdie nuwe soort bediening het om verskeie redes wêreldwyd ’n al hoe dringender behoefte begin word; iets waarvan kerke móés begin notisie neem en waarop ons sinode gereageer het deur die Gerontologie Netwerk in die lewe te roep.
Ds Frans Oosthuizen, komiteelid van die Gerontologie Netwerk, vertel hoe hy by dié netwerk betrokke geraak het en waarom hulle prof Jaco Hoffman vroeër vanjaar as gasspreker na een van hul aanbiedings genooi het.
Ek was vir bykans vyf jaar predikant by die Striata Aftree-oord, en wat ’n groot voorreg was dit nie om met die meer volwasse lidmate te werk nie. Vanuit hierdie ervaring en belangstelling het ek toe by die Gerontologie Netwerkkomitee betrokke geraak.
Ek het besef dat ouderdom nie ’n doodsvonnis is nie en dat daar heelwat meer potensiaal in senior lidmate beskikbaar is as wat op hierdie stadium deur die geloofsgemeenskap gebruik word. Die grootste kopskuif wat ek sedertdien gemaak het, was dat seniorbediening eerder ’n bediening deur as aan seniors kan wees. Hoe gebruik ons egter hierdie gawes, talente, liefde en vermoëns in die samelewing?
Daarvoor het ons ’n kundige oor gerontologie soos prof Hoffman nodig gehad wat op Donderdagoggend 8 Junie ’n besonder insiggewende praatjie oor veroudering by die Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein aangebied het.
Dis altyd goed om te weet wie voor jou staan en watter ervaring prof Hoffman as spreker kredietwaardig maak. Wel, hieraan is daar geen tekort nie; by paragraaf drie gaan jy uitasem wees.
Prof Jaco Hoffman (DPhil, Oxon) is ‘n professor in sosio-gerontologie in die Optentia-navorsingseenheid, Noordwes-Universiteit, waar hy die Veroudering- en Generasiedinamika in Afrika (AGenDA)-program as ‘n NRF1-gegradeerde navorser lei.
Hy is ook professorale genoot by die Instituut vir Bevolkingsveroudering, Universiteit van Oxford, waar hy die Afrika-navorsingsnetwerk oor veroudering (AFRAN) koördineer. Hy is ‘n ere-professor by die Instituut vir Veroudering in Afrika by die Departement Geneeskunde, Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, ‘n voormalige president van die Suid-Afrikaanse Gerontologiese Vereniging (SAGA) en stigterslid van die Suid-Afrikaanse Ouer Persone Forum.
Jaco is ook ‘n mededirekteur van die Internasionale Langlewendheidsentrum (ILC) Suid-Afrika, asook ‘n direkteur van die Internasionale Federasie van Veroudering (IFA-) Raad. Boonop is Jaco genomineer as een van 15 wêreldwye kommissarisse vir die mediese vaktydskrif Lancet oor langtermynsorg vir ouer persone tot 2025.
Prof Hoffman is inderdaad ’n besondere kenner op hierdie gebied en dis ’n groot voorreg dat ons sy kundigheid met ons mense kon deel.
Frans, jy was natuurlik tydens hierdie geleentheid teenwoordig. Ek sien daar was twee sessies. Die eerste sessie het gegaan oor die tendense en uitdagings van veroudering. Kan jy kortliks jou indrukke daarvan gee?
Tydens die eerste sessie is die situasie van ons ouer persone geposisioneer binne die groter ouerwordende bevolkingsdinamika: wêreldwyd, in Afrika en in Suid-Afrika. Ons het gekyk na die groot tendense van die verandering in die bevolkingstruktuur en watter uitdagings en geleenthede dit inhou.
Daar is skokkende statistiek aan ons voorgehou. Eintlik sien ’n mens wat aan die gebeur is, maar dit was eers met die syfers op die bord dat ek besef het wat regtig aan die gang is.
Die kerk is nie net besig om te verouder omdat lidmate na ander kerke toe oorskuif nie; ons verouder ook omdat mense langer leef. In Suid-Afrika is daar tans 5,9 miljoen mense ouer as 60. Daar word voorspel dat die syfer teen 2050 soveel as 11,8 miljoen gaan wees.
Een van die uitdagings wat seniors in die gesig staar, is dat hulle ouer kan word as wat hul beskikbare fondse hulle sal kan dra. Armoede is ’n groot uitdaging vir baie. Armer seniors het dan ook nie toegang tot goeie gesondheidsorg en algemene versorging nie.
Nog iets wat onder ons aandag gebring is, was dat daar tans minder kinders gebore word as mense wat 60 word. Dit is ’n wêreldwye tendens.
’n Ander bykomende faktor is dié van migrasie; kinders trek oorsee om ’n stabiele toekoms te verseker en hul ouers bly agter, wat oor die lang termyn beteken dat hulle hoofsaaklik op hulleself aangewese sal wees.
Die langer lewensverwagting veroorsaak natuurlik dat mense langer aktief of betrokke kan (en moet) bly.
Dis so belangrik dat die kerk die potensiaal in die ontwikkeling van hierdie groep mense sal raaksien; iets waarop sessie twee verder ingegaan het. Die tema daarvan was ‘n Koninkryk of Kerk vir alle ouderdomme en fases! Vertel meer.
Aangesien hierdie sessie meer praktykgerig was, wens ek so ’n mens kan meer predikante en leiers by geleenthede soos hierdie kry.
In hierdie sessie het ons realisties saamgedink oor die huidige dinamika in die hoofstroomkerke en hoe ons dit kreatief en strategies kan omarm. Daar is onder andere besin oor ouer lidmate se lewegewende potensiaal, aftrede of toetrede, ‘n lewensloopbenadering, intra- of intergenerasionele programme, voortgesette stimulasie, sorgsame sorg en aanpasbare veroudering.
Die realiteit van ’n ouerwordende wêreld is nie negatief nie. Prof Hoffman het verwys na drie aspekte waarop seniors kan fokus en wat die kerk se roeping is om hulle hierin te begelei.
Eerstens, Stay Connected en beoefen koinonia (fellowship). Ons vind dikwels dat seniors afgesonder word. In die Striata Aftreeoord was dit dié grootste uitdaging wat senior mense in die gesig staar. Hulle voel (en is) dikwels alleen en eensaam.
Vroeër het gesinne by mekaar gebly. Ouma en oupa was deel van die saamgestelde familie en het heeltyd kontak met kinders en kleinkinders gehad. Verskillende ouderdomsgroepe was in voortdurende kontak met mekaar en het mekaar wedersyds beïnvloed.
Vandag vind ons dat mense eerder in aftree-oorde apart van uitgebreide familie bly. Oupas en oumas smag na jong geselskap en jonger mense weet nie wat in ouer mense se lewens aangaan nie. Die geloofsgemeenskap skuif hulle dan nog verder uit en ons het ’n “bejaardebediening”. Dis ’n bediening aan seniors eerder as ’n bemagtigings- en indiensstellingsproses.
Iemand wat op 65 aftree, het nog baie potensiaal vir en in hulleself, die gemeenskap en die kerk; ons verloor al daardie potensiaal!
Tweedens het prof Hoffman beklemtoon hoe belangrik dit is om te bly leer (keep sharp). Die brein is soos ’n spier. As jy dit nie gebruik of oefen nie, raak dit swakker. Dr Petrus Moolman wat die boek Meaningful Ageing geskryf het, sê dat dit belangrik vir seniors is om elke dag iets nuuts te skep, al is dit iets kleins. Bly lees en leer. Musiek is ook baie terapeuties en die aanleer van ’n nuwe instrument kan groot waarde hê. Op 82-jarige ouderdom neem hy nou tjello-klasse – oefen jou brein!
Derdens het prof Hoffman beklemtoon hoe belangrik dit is om gereeld te oefen en reg te eet (love your heart). Bly aan die beweeg solank jy kan.
Prof Hoffman het kortliks die waarde wat die Gerontologie Netwerk vir die kerk en samelewing inhou, deur ’n aanhaling van die Duitse sielkundige Paul Baltes saamgevat: “Many older people decline, not because they have exhausted their potential – but because insufficient demands are made upon them by themselves and others.” Ons verwag te min van seniors en mis dan die rykdom van potensiaal wat in hul ervaring opgesluit lê.
Tydens so ’n aanbieding word daar gewoonlik ook baie nuttige en praktiese aanbevelings gemaak. Was dit ook so in hierdie geval?
Ja, daar is drie wenke genoem. Prof Hoffman het hierdie afdeling afgeskop met die term ‘seleksie’. Dit gebeur so maklik dat ons namens seniors besluite neem, asof hulle nie vir hulleself kan besluit nie. Ons uitdagings is om hulle toe te laat en aan te moedig om so lank as moonlik oor hul eie lewens en versorging te besluit.
Tweedens is daar gefokus op optimalisering. Aftrede is meer as net om terug te sit en passief te raak. Dis belangrik vir seniors om optimaal te bly funksioneer. Vir die geloofsgemeenskap is dit veral belangrik om die kopskuif te maak van die daarstel van ’n bediening deur eerder as aan seniors. Seniors kan aangemoedig word om dit wat hulle het om te bied, optimaal te gebruik en te beoefen.
Derdens is daar gepraat oor kompensering. Soos wat kragte minder raak, is dit belangrik om nuwe en makliker maniere te vind om steeds soveel moontlik te kan doen. Gebruik tegnologie en fisiese hulpmiddels om steeds soveel moontlik te kan doen. Kinders is ver en sommige woon selfs oorsee. Ons selfone bring hulle weer amper in die huis. Brille, gehoorsisteme, looprame, rolstoele – gebruik wat jy kan om so aktief as moontlik te bly!
Hoffman het afgesluit met die volgende aanhaling van Baltes: “At the heart of adaptive aging lies the ability to manage the inevitable losses, to make smaller territories of life larger and more beautiful.”
Wat is jou grootste wens ná hierdie aanbieding van prof Hoffmann, Frans?
Ons wil kerkleiers aanmoedig om die geleenthede wat die Gerontologie Netwerk aanbied, heelhartig te ondersteun. Kom leer, kom vernuwe en kom deel, sodat ons ons nuwe uitdagings en geleenthede na die beste van ons vermoë kan benut.
Soek jy meer inligting?
Kontak ds Frans Oosthuizen by dsfrans@gmail.com of 082 859 2092. Jy kan ook ds Jors Reynders, voorsitter van die Gerontologie Netwerk by jomarey@mweb.co.za of 082 783 0730 skakel.