Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Begeleiding aan ons predikante

Deur Mariëtte Odendaal | Predikante Netwerk

“Die oorgrote meerderheid van deelnemers aan die Sentrum-aanbiedings getuig van die waardevolle betekenis wat dit vir hulle gehad het; nie net vir die deelnemers nie, maar ook vir die waarnemers en begeleiers.”

Ds André Barlow
Koördineerder: Sentrum vir Predikantebegeleiding

Een van die belangrikste gemeenskapsleiers in ons samelewing is ons predikante. Hulle kan ’n groot invloed uitoefen op hul gemeentelede en die gemeenskappe waarbinne ons leef. Predikante kan ons inspireer om altyd nuut oor gemeenskapsake te dink en as getroue navolgers van Christus op te tree. In hierdie opsig speel die Sentrum vir Predikantebegeleiding ’n onontbeerlike rol.

Ons het met ds André Barlow, koördineerder van die Sentrum vir Predikantebegeleiding en ook emeritus-leraar van die NG Gemeente Hugenoot, hieroor gaan gesels.

André, vertel ons meer oor die ontstaansgeskiedenis van die Sentrum vir Predikantebegeleiding.

“Sedert 2011 het daar talle gesprekke oor die versorging en begeleiding van predikante plaasgevind. Uit die geledere van die NG Kerk Sinode Wes-Kaapland was dr Pierre Goosen, destyds predikant in sinodale diens (PSD) met opdrag predikante, en dr Leon Venter, in daardie stadium ondervoorsitter van Communitas, die inisieerders van die stigting van die Sentrum.

“Dr Venter het met sy drie jaar lange ondervinding as bestuurskonsultant by Old Mutual waardevolle ervaring van assesseringsentrums gehad. Hierdie sentrums word gebruik om die vaardighede van bestuurders te toets en dan individuele ontwikkelingsplanne vir hulle te ontwikkel; iets wat ook gebruik word om te besluit wie na hoër posisies bevorder kan word. 

“Die idee van ’n assesseringsentrum vir predikante het dus by dr Venter ontstaan. So ’n assesseringsentrum sou op ’n raamwerk van vaardighede ontwikkel en gebou word. 

“Die raamwerk van vaardighede is gekies deur te gaan kyk na die biblioteek van algemene vaardighede wat in die korporatiewe werksplek ontwikkel is en gebruik word. 

“Daar is toe 27 van hierdie vaardighede geïdentifiseer wat op die werk van predikante van toepassing is, waarvan agt as kritieke vaardighede (competencies) geïdentifiseer is.”

Waar pas die Sentrum vir Predikantebegeleiding in jul sinodale struktuur in en waarop word hoofsaaklik gefokus?

“Die Eenheid vir Bedieningsbegeleiding van die Sinode Vrystaat verrig sy taak binne sinodale verband met behulp van dertien netwerke waarvan die Predikante Netwerk een is. 

“Die hooffokus van die Predikante Netwerk is die Sentrum vir Predikantebegeleiding. Daar is gewoonlik vyf deelnemers, tien begeleiers en vyf waarnemers by ’n Sentrumgeleentheid teenwoordig. 

“Die doel van die Sentrum is om leraars verder toe te rus om hul bediening met meer vreugde en effektiwiteit te kan uitvoer. Elke sentrumgeleentheid akkommodeer vyf deelnemers. ’n Deelnemer word in ’n kleingroep deur twee begeleiers deur die proses geneem en deelnemers van ’n vorige geleentheid vorm deel van die kleingroep as waarnemers.

“Gedragsbekwaamhede word dan aan die hand van praktiese rollespel getoets as ’n assesseringsmetode om vas te stel op watter vlak die deelnemer se bediening lê.

“Die agt gedragsbekwaamhede wat vir predikante nodig is om effektief in die bediening te funksioneer, is as volg gedefinieer: Afrigting en mentorskap of begeleiding, besluitneming (insluitend probleemoplossing), effektiewe kommunikasie (insluitend konflikhantering), emosionele selfbestuur, leierskap (insluitend verantwoordbaarheid), denkvermoë, beplanning en die implementering daarvan, en laastens geloofsvolwassenheid (insluitende geloofsonderskeiding).”

Vanaf 4 tot 6 Maart het julle weer so ’n aanbieding gehad. Vertel meer oor die praktiese toepassing daarvan.

“Daar vind elke kwartaal ’n Sentrum-aanbieding plaas, afhangende van die beskikbaarheid van moontlike deelnemers.

“Tydens die afgelope aanbieding is daar weer op bogenoemde agt gedragsbekwaamhede as belangrike boustene in die ontwikkeling van die vaardighede van predikante gefokus; dit vorm die basis vir terugvoering en gesprek met die deelnemers waartydens ons dan ’n beter begrip oor die nodige vaardighede ten opsigte van die bedieningspraktyk wil skep.

“Onder ʼn bekwaamheid verstaan ons ʼn kompleks van verwante kennis, vaardighede, houdings en gewoontes wat binne ʼn spesifieke konteks baie waarde tot die bediening kan toevoeg.

“So, hoe kan ʼn bekwaamheid waargeneem, gemeet en ontwikkel word? Richard R Osmer beskryf in sy Practical Theology drie vlakke van leierskap wat algemeen in leierskapsteorieë onderskei word, naamlik taakbevoegdheid (vlak 1), transaksionele leierskap (vlak 2) en transformasionele leierskap (vlak 3).

“Vlak 1 beteken dat ’n predikant die take van die bediening kan uitvoer.  Dit is waarvoor hulle opgelei is. Taakbevoegdheid is die vermoë van die predikant om die verskillende funksies van ’n leraar te verrig, naamlik onderrig, prediking, bestuur van komitees, die leiding van aanbidding, siekebesoek, ensovoorts. 

“Transaksionele leierskap (vlak 2) is die vermoë om ander te beïnvloed. In die bediening betaal die gemeente die leraar en verrig die predikant haar of sy pligte wat aan die gemeente se persoonlike behoeftes voldoen, soos godsdiensonderrig aan hul kinders, of om geestelike groeigeleenthede aan klein groepe te bied en goeie preke tydens eredienste te lewer. Transaksionele leiers kies die beste tussen verskillende opsies en faksies in die gemeente om hul missie te bereik.  Die belangrike vraag by vlak 2 is dus of jy lidmate ‘met jou saamneem’.

“Om leierskap te transformeer (vlak 3) behels ‘dieper verandering’. Dit lei ‘n organisasie deur ‘n proses waarin identiteit, missie, kultuur en bedryfsprosedures fundamenteel verander word. In ‘n gemeente kan dit veranderinge in die aanbidding, gemeenskap, uitreik, en openheid vir nuwe lidmate wat anders is, behels. Dit bevat die projeksie van ’n visie van wat die gemeente kan word, en die mobilisering van volgelinge wat tot hierdie visie verbind is.  Vlak 3 vereis dus koninkrykstaal en ’n koninkryksvisie.

“By elke geleentheid word dan ook gebruik gemaak van die meetinstrument Organic Scorecard.  Laasgenoemde toets menslike bewussyne en dui aan wat ’n persoon se huidige lewenstrategie is. Tydens ’n terugvoersessie gee jou konteks betekenis aan die resultaat en kan jy met behulp van die interpreteerder bepaal of die huidige strategie die beste is vir die plek waar jy nou is.  Dit is gewoonlik vir die deelnemer ’n positiewe ervaring wat waarde toevoeg.

“Die resultaat van ’n vooraf ingevulde 360 grade-vraelys word ook met deelnemers bespreek.  Die persentasie (%) wat ’n deelnemer vir hom- of haarself ten opsigte van elke gedragsbekwaamheid toeken, word vergelyk met die persentasie wat vyf ander gekose respondente toeken. 

“Die terugvoerblad is ’n ronde spinnekopweb (vandaar die 360 grade) wat persentasies van die deelnemer en respondente grafies voorstel. ’n Gesprek oor die 360 grade-spinnekopweb in die hand het verskeie uitkomste tot gevolg, byvoorbeeld die bevestiging van deelnemers se selfinsig (oor gedragsbekwaamhede); dit daag ook deelnemers se selfinsig uit en lig meer en minder ontwikkelde gedragsbekwaamhede uit.”

Stem jy saam met die stelling: As leraars op vlak 1 funksioneer, is die kanse goed dat gemeentes op vlak 1 bly funksioneer?

“Dis ’n baie logiese afleiding, maar die saak is komplekser as dit. Jy sal empiriese navorsing moet doen om dié stelling te staaf.

“Daar is ook ander leiers in die gemeente. Die dominee se leierskap is belangrik, maar word dikwels baie effektief aangevul deur ander uiters bekwame leiers.

“Gemeentes het hul eie kultuur, tradisies en rykdom van talente en lidmate wat uitstekend funksioneer buiten die vaardighede van hul predikant. Die kultuur en praktyke van gemeentes kan dus op ’n heel ander vlak werk as dié waarop hul kerkleiers funksioneer. Daar is wel ’n beïnvloeding, maar dit is kompleks.

“Wat wel waar is, is dat as ’n gemeente nie ’n goeie kultuur, praktyke en tradisie het nie en transformasie moet plaasvind, kan ’n predikant wat net op vlak 1 funksioneer, nie die gemeente suksesvol help transformeer om na beter praktyke te lei en ’n beter gemeentekultuur te ontwikkel nie.”

Hoe kan die Sentrum vir Predikantebegeleiding te werk gaan om leraars te begelei om na vlakke 2 en 3 te groei?

“Die vertrekpunt is die waarde wat die Sentrum tot predikantebediening toevoeg. Die oorgrote meerderheid van deelnemers aan die Sentrum-aanbiedings getuig van die waardevolle betekenis wat dit vir hulle gehad het; nie net vir die deelnemers nie, maar ook vir die waarnemers en begeleiers.

“Die eerste stap in hierdie proses is om die predikante by die Sentrum te kry.  By die Sentrum raak deelnemers bewus van Osmer se vlakke en die rollespel help hulle om raak te sien op watter vlak hulle bedien.

“Die Sinode Wes-Kaapland het ’n fase 2 waar deelnemers met behulp van mentors begelei word in die proses om te groei na vlakke 2 en 3.  Hier word daarop gefokus om predikante te help om die nodige veranderinge aan te bring. 

“Die Sinode Vrystaat het tans nie die bronne om ’n fase 2 te finansier nie.”

André, wat sou jy sê is die grootste uitdagings ten opsigte van hierdie begeleidingsproses?

Finansies. Tans is daar ’n begroting vir ’n Sentrum-aanbieding vier keer per jaar. Hoe lank ons nog die fondse hiervoor gaan hê, is onseker. Die ideaal is om dan, ná so ’n Sentrum-aanbieding, ’n pad met deelnemers vir ’n tweede fase te loop.  Tans het ons hier in die Vrystaat nie die begroting daarvoor nie.

“Nog ’n uitdaging is dat nie alle predikante oop is vir so ’n proses nie; hulle is huiwerig om hulle op hierdie manier bloot te stel.”

Wat is jou droom vir die NG Kerk-predikante in die Vrystaat?

“Binne die konteks van die Sentrum vir Predikantebegeleiding is my droom om uiteindelik al die leraars in die Vrystaat deur die Sentrum te laat assesseer en begelei.

“My droom is dat al ons predikante sal inkoop op die moontlikhede van groei wat die Sentrum vir Predikantebegeleiding kan bied sodat hulle sal skuif van vlak 1 na vlakke 2 en 3.”

Kontak

Vir meer inligting kan ds André Barlow gekontak word by andrebarlow53@gmail.com. Die volgende aanbieding sal plaasvind vanaf 20 tot 22 Mei.

116 | Maatskaplike NOODLYN