Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Apologetiese gesprekke met Islam

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Dit is vir ons as Christene ‘n opdrag, maar ook ‘n heerlike voorreg om die evangelie na almal in die wêreld te neem. Dit sluit natuurlik ook Moslems in. Die metodiek van hoe ons die evangelie na ander neem, kan verskil van situasie tot situasie en van persoon tot persoon. Daar is geleenthede waar ons vriendskappe met mense aanknoop om met verloop van tyd, as vriende, ons getuienis uit te leef sodat ons vriendskap die basis vorm van die geleentheid om die evangelie te deel. Soms loop ons onbekende mense op straat raak en begin spontaan teenoor hulle getuig van ons verhouding met die Here Jesus – en daarmee saam ook ‘n uitnodiging om die Here Jesus as Verlosser te aanvaar.

Soms neem hierdie gesprekke ‘n meer formele vorm aan. ‘n Gesprek waar die standpunte van die gespreksgenote teenoor mekaar gestel word. ‘n Gesprek wat meer in die vorm van ‘n debat geskied. Hierdie vorm van getuienislewering val binne die teologiese dissipline van die Apologetiek.

Die woord “apologetiek” is afgelei van ‘n woord in 1 Petrus 3:15, waar ons lees: “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” Dit is juis die aspek van “gereedheid om ‘n antwoord te gee” waar die apologetiek ter sprake kom.

Die sake wat in so ‘n gesprek met Moslems op die tafel kom, is nogal gewigtig, en vra ‘n deeglike kennis van dit wat die Bybel daaroor leer en ook ‘n basiese kennis van wat die Koran daaroor leer. Dit is belangrik om uit die staanspoor te verstaan dat die inligting wat die Koran oor die bepaalde saak gee, nie vir ons as Christene enige gesag dra nie. Ons aanvaar net die Bybel se gesag daaroor. As ons egter mense van ander godsdienste (Moslems in dié geval) wil ontmoet op die plek van geestelike duisternis waarin hulle verkeer, moet ons die grond van daardie dwaling ken.

Sake wat in gesprekke van hierdie aard na vore kom, is ingewikkelde leerstellings, byvoorbeeld dié oor die Drie-Eenheid, die Godheid van Jesus, die onfeilbaarheid van die Skrif en vele ander. Moslems ontken byvoorbeeld die Godheid van Jesus. ‘n Vraag wat dikwels in sulke gesprekke na vore kom, is: “Waar in die Bybel sê Jesus dat Hy God is?” Baie Christene kan nie dié vraag uit die vuis beantwoord nie. Ons gaan in die weke wat kom, kyk na die antwoorde op hierdie en ander vrae. Dit vra dus van ons om ons verstand te gebruik en om die Bybel deeglik te bestudeer.

‘n Bekende dogmatikus, dr R.C. Sproul[1] skryf na aanleiding van 1 Petrus 3:15, wat hierbo aangehaal is, die volgende: “Sommige Christene sê vir dié wat navraag doen dat ons bloot ‘n geloofsprong maak sonder om enige moeite te maak met die geloofwaardigheid of die rasionele karakter van die aansprake van die Bybel. So ‘n siening weerspreek die betekenis van hierdie teks. Die enigste geloofsprong wat ons moet maak, is uit die duisternis na die lig. Wanneer ons Christene word, los ons nie ons denke en verstand op die parkeerterrein nie. Ons word geroep om te dink volgens die Woord van God, om die gesindheid van Christus te soek en om die sake wat in die heilige Skrif uiteengesit word, te begryp. Die Bybel is ‘n dik boek, en elke stukkie daarvan, glo ek, is deur die Heilige Gees geïnspireer. Uiteindelik is die skrywer van hierdie Boek God self. Hy het dit vir ons gegee om verstaan ​​te word, en ons kan dit nie verstaan ​​as ons ons gedagtes sluit vir die noukeurige studie daarvan nie.”

Hierdie Islam-artikel het ’n ander aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus.

[1] Sproul, R.C. 1-2 Peter: An Expositional Commentary. Ligionier Ministries: Sanford, Florida

116 | Maatskaplike NOODLYN