Ek loop dikwels kollegas raak wat hulle kommer uitspreek oor die afname in erediensbywoning – veral ná Covid-19. In die meeste gemeentes waarmee ek te doen kry, tel die getalle effens op, maar nie naastenby soos voor Covid-19 nie.
Sommige leraars verval in sak en as – wat doen hulle dan verkeerd? Waarom kom die mense dan nie terug nie? So eenvoudig is dit egter nie.
Die oorgrote meerderheid mense in SA identifiseer as Christene, maar dis grootliks onbetroubare en selfs misleidende statistiek. ʼn Groot deel van daardie groep voldoen nie aan die Bybelse definisie van ʼn volgeling van Jesus Christus nie.
In ʼn onlangse sensus in die Verenigde Koninkryk, identifiseer net 46,2% hulleself as Christene – dis dertien persentasiepunte minder as ʼn dekade gelede! (Die tweede grootste groep is diegene met geen godsdiens, ʼn volle 37,2%). Maar net minder as een persent van die bevolking woon eredienste van die Church of England by.
Nou waarom noem mense hulleself dan steeds Christene? Waarskynlik in die eerste plek omdat hulle nie Jode of Moslems of Hindoes (of van ʼn ander godsdiens) is nie. Maar dalk is daar ook meer aan. En hier dink ek is SA se uitdaging ook: Professor Abby Day wat jare lank al hieroor navorsing doen, dui drie redes aan waarom mense vir hulleself hierdie identiteit sou toe-eien: Sy noem dit ‘natal’ (as gevolg van hulle kleintyd se doop en jou familie), ‘ethnic’ (dit gaan oor die kultuur en die land waarin jy woon) en ‘aspirational’ (want om ʼn Christen te wees, is om ʼn goeie mens te wees).
Die inhoud wat ons aan die term “Christen” gee, is dalk ʼn groot deel van die probleem. Wat is ʼn Christen? Wat glo hy of sy? Hoe leef ʼn Christen en hoe kan een uitgeken word? Kan jy ʼn Christen wees as jy nie jou naaste liefhet nie? Of selfs net streef daarna om hulle lief te hê? En wat van God? Kan ʼn Christen sê dat hy/sy nie vir God liefhet nie? Of selfs nie glo dat Hy bestaan nie? ʼn Britse meningsopname in 2016 het bepaal dat net 53% van hulle wat hulself Christene noem, glo in die bestaan van God! Is jy dan nog regtig ʼn Christen?
Is die dwarslat nie te laag nie? Het ons nie die evangelie so afgewater dat enigeen wat maar net die regte rympie opsê, hulleself “Christen” kan noem nie? Ja, natuurlik word ons uit genade gered en nie verdienste nie, maar die Bybel is vol daarvan dat ʼn boom aan sy vrugte geken sal word. Word ons nie gevra om vrugte te dra wat by die bekering pas nie?
Op sosiale media is daar ʼn meme wat dikwels die rondte doen wat vra of jy bereid sal wees om te sterf vir jou geloof. Natuurlik sê die meeste mense ja, hulle sal stérf vir Christus, maar gister wou hulle nie eers vir Christus lééf nie!
Dis tyd dat ons in die Westerse wêreld opstaan en die naam “Christen” sy ereplek teruggee en nie toelaat dat mense dit misbruik nie. ʼn Christen is ʼn geredde sondaar wie se lewe onherroeplik verander is deur die werking van die Gees van Christus. Hiersonder word dit ʼn betekenislose etiket wat ons om die nek hang. Dan sal ons ook besef dat die kerk eintlik baie kleiner is as die groot getalle waarmee ons onsself bluf.
Dr Leon Foot | Leraar van NG Gemeente Welkom-Suid
Hierdie is ‘n opiniestuk. Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van NG Kerk Vrystaat nie