Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

ACTEA | Association for Christian Theological Education in Africa

Foto verskaf:  Van die raadslede wat by die vergadering was (van die ander het dit aanlyn bygewoon).
V.l.n.r.:  Raadsvoorsitter dr Florence Muindi (Kenia), uitvoerende direkteur dr David Tarus (Kenia), raadslid dr Daniel Aji Kawata (Demokratiese Republiek van die Kongo), raadslid dr Nico Mostert (Suid-Afrika), raadslid me Ruth Edith Apolot Chirchir (Uganda/Kenia) en raadslid me Mueni-Nyokabi Kahumbira (Kenia).

Ons almal weet hoe belangrik opleidingsakkreditasie is – die versekering dat opleiding op ’n goedgekeurde en gestandaardiseerde vlak deur ’n betroubare instansie as legitiem aanvaar is. Dit geld natuurlik ook vir ons kontinent se teologiese skole.

Daarom was dit van groot belang toe dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis by die Sinode Vrystaat, ná prof Jurgens Hendriks se aftrede by die Universiteit Stellenbosch, in sy plek as een van die direkteure op die raad vandie Association for Christian Theological Education in Africa (ACTEA) aangestel is.

Hoe en waarom het ACTEA ontstaan?

Hierop antwoord dr Mostert as volg: “ACTEA het in 1968 as ’n werksaamheid van die Association of the Evangelicals in Africa (AEA) ontstaan en is geakkrediteer by die International Council for Evangelical Theological Education (ICETE) wat die groot akkreditasieliggaam van teologiese opleiding in die Evangeliese Kerk-wêreld is.

“Na die ontstaan van die Wêreldraad van Kerke het Evangeliese kerke hul eie ekumeniese groepering begin, ook in Afrika, en dis waar AEA ontstaan het.

“Deel van AEA se visie was om teologiese opleiding in Afrika te akkrediteer. In die sestigerjare van onafhanklikheidswording van talle voorheen-gekolonialiseerde regerings in Afrika is teologiese opleiding nie as ’n wetenskaplike dissipline deur die verskillende rade vir hoër en tersiêre opleiding erken nie. Teologiese opleidingskursusse kon dus nie geakkrediteer word nie.

“Die akkreditasie van teologiese skole in Afrika het toe begin vorm aanneem by ACTEA. ACTEA het lyste van standaarde opgestel vir sertifikaat-, diploma- en B-graadvlakke. Dit het ook later M- en D-grade ingesluit.

“ACTEA het dus ’n baie groot rol gespeel om akkreditasie van teologiese onderrig in Afrika te vestig. Daar was op ’n stadium tot 300 teologiese skole by ACTEA geakkrediteer. Tans het dit verminder na 150.”

Die dilemma

Dr Mostert verduidelik waarom daar intussen ’n dilemma onstaan het: “Baie van die skole se situasies het intussen verander; hoër opleidingsinstansies in verskillende Afrika-lande begin nou teologiese opleiding erken en vereis dat hierdie opleiding geakkrediteer word in die land waar dit aangebied word. Dit veroorsaak dus probleme vir ACTEA.”

Van 7 tot 10 Februarie het dr Mostert ’n direksievergadering van ACTEA in Nairobi, Kenia by die hoofkantoor van ACTEA bygewoon. Hierdie vergadering is deur verskillende direksielede oor die hele Afrika bygewoon en bestaan uit ’n interessante groep mense met verskillende spesialiteitsvaardighede. Daar was byvoorbeeld ’n regskundige en rekenmeester uit Kenia, akademici van die Kongo, Cameroen en nog vele meer.

“ACTEA speel egter steeds ’n groot rol,” vertel dr Mostert. “Daar is byvoorbeeld tans ’n groot behoefte aan teologiese onderrig op laer standaarde, soos sertifikaatvlakke en selfs laer; gelykstaande aan ons Further Education and Training (FET)-vlakke 1 en 2. Die uitdaging is dus nou hoe om hierdie laer vlakke te laat akkrediteer.

“Die teologiese opleidingsinstellings in Afrika kry egter oral finansieel baie swaar en boonop is dit baie moeilik om dubbele akkreditasie te laat doen; hulle kan nie by beide ACTEA en hul eie land se akkreditasie-owerhede aansoek doen nie, dis eenvoudig net te tydrowend en te duur.”

Dr Mostert het ook in hierdie tyd besoek afgelê by AEA wat in dieselfde gebou as ACTEA se kantore is.

Op die foto hieronder staan dr Mostert by AEA se algemene sekretaris, dr Master Oboletswe Matlhaope van Botswana:

Foto verskaf:  Dr Nico Mostert by dr Master Oboletswe Matlhaope (Botswana).
116 | Maatskaplike NOODLYN