Deur Mariëtte Odendaal
Afrika, kontinent van Lig
Ons moet anders begin dink oor sending
(Deel 1 van 5)
Vir eeue lank het sendelinge uit Europa na Afrika gekom om die Lig van Christus te bring, maar tans is juis die omgekeerde besig om te gebeur – die Lig wat in Afrika grondgevat het, word nou weer vanuit Afrika na dele in die noordelike halfrond gebring. Daar is ’n proses van omgekeerde sending besig om plaas te vind.
Dr Nico Mostert
Vennote in Getuienis, NG Kerk Vrystaat
Ons sal as Christene nuut moet begin dink oor hoe ons in en vanuit Afrika die Lig van Christus op ’n vars en betekenisvolle manier kan bly uitleef; om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees. Daarom is dit van groot belang dat ons as Christenleiers van Afrika om ’n tafel gaan sit en ernstig besin oor waarheen die wêreld op pad is en hoe ons as Christene gelei moet word om as ware navolgers van Christus te leef.
Van 8 tot 9 Maart het die jaarlikse Africa Society for Evangelical Theology (ASET)-konferensie in Nairobi, Kenia plaasgevind waartydens juis dit gebeur het toe verteenwoordigers uit tientalle kerke byeengekom het.
Uit die geledere van die NG Kerk is dit bygewoon deur dr Nico Mostert (Vennote in Getuienis, NG Kerk Vrystaat), dr Daniël de Wet (Getuienisaksie, Wes-Kaapland) en ds Hannes Theron (NetACT).
Agtergrond
In die ekumeniese wêreld van Afrika is daar twee groot hoofgroeperinge wat jaarliks tydens die ASET-konferensie as teologiese verenigings saamkom. Die twee groepe bestaan uit die All Africa Conference of Churches (AACC) wat meestal uit hoofstroomkerke bestaan, en dan die evangeliese beweging, die Evangelicals, wat as die Association of Evangelicals in Africa (AEA) bekend staan. In hierdie evangeliese groepering is daar nie net ’n vakvereniging nie, maar ook ’n teologiese vereniging, naamlik ASET.
Ons het meer oor die afgelope konferensie gaan uitvind by dr Nico Mostert.
Nico, vertel ons meer van die tema van die konferensie asook van die hoofspreker.
“Vanjaar se ASET-tema het gehandel oor The Mission of God en het spesifiek oor sending gegaan. Daar is besin oor hoe ons met ’n Afrika-perspektief na sending moet kyk, met ander woorde oor watter soort sending vanaf Afrika na die wêreld toe moet uitgaan.
“Tans is die verwagting dat vanaf 2030 tot 2050 die grootste deel van die Christendom in die suidelike halfrond te vinde sal wees, waarvan die grootste deel in Afrika sal wees.
“Die vraag is dus watter soort Christendom Afrika tot dan sal oplewer en hoe die proses sal uitspeel, want vanuit hierdie groot deel van die Christendom sal daar ook wêreldsending plaasvind.
“Die gasspreker van die konferensie was dr Harvey Kwiyani, ’n teoloog oorspronklik van Malawi en tans verbonde aan die Church Mission Society in Oxford, Engeland. Hy begelei die Centre for Global Witness and Human Migration en bestuur hul programme ten opsigte van die Christendom in Afrika. Hy is ook die stigter en tans die uitvoerende direkteur van Missio Africanus, ’n interkulturele sendingopleidingsinisiatief wat daarop fokus om die wêreldwye kerk toe te rus en te bemagtig vir sending in Europa.
“Harvey se vertrekpunt was Out of the darkness, Light came to the world. Hy het verwys na die bekende ontdekkingsreisiger en latere reisgenoot van dr David Livingstone, Henry Morton Stanley wat – terwyl Livingstone sy verkenningstogte vanuit die suide aangepak het – syne vanuit Sentraal-Afrika aangepak het op soek na die oorsprong van die Nyl.
“In een van Stanley se dokumente verwys hy na Afrika as die Dark Continent, ’n term wat ’n baie groot invloed gehad het op hoe ons oor ons kontinent dink. Ons vind verskeie neerslagte daarvan in ons Christelike liedere en Bybelstudietekste.
“Vir eeue lank het sendelinge uit Europa na Afrika gekom om die Lig van Christus te bring, maar tans is juis die omgekeerde besig om te gebeur – die Lig wat in Afrika grondgevat het, word nou weer vanuit Afrika na dele in die noordelike halfrond gebring. Daar is ’n proses van omgekeerde sending (reversed mission) besig om plaas te vind.
“Dit maak my opgewonde om te besef dat ons besig is om weg te beweeg van die idee dat Afrika as die donker kontinent beskou word. Die Lig van die evangelie skyn sterk in Afrika en daar is oral kragtige getuienisse oor wat Christus besig is om in Afrika te doen. Ons kontinent is vol van die Lig van Christus.”
In hierdie proses sal ons egter baie anders moet begin dink oor sending?
“Ja, beslis. Twee faktore is hier van belang. Ons sal eerstens ’n nuwe en relevante ‘taal’ moet begin gebruik; die huidige taal is vasgeval in kolonialisme omdat die sendelinge saam met kolonialisme Afrika binnegekom het. Sendelinge het nie losgestaan van die koloniale uitbreiding van Europa nie.
“In plaas van byvoorbeeld die woord ‘sending’ kan ons eerder praat van ‘getuienis’. Dit resoneer baie sterk in ons Gereformeerde tradisie, die marturia (Grieks vir getuienis); dat ons juis sê dat een van die kerntake van die kerk is om in die wêreld te getuig.
“Dr Kwinyani maak ’n sterk punt oor die belangrikheid van terminologie en taal, veral oor die militaristiese terme wat ons gebruik; iets wat deesdae ook vir my bekommerd maak, omdat die wêreld tans baie deur geweld geteister word. Vroue en kinders word veral swaar getref deur oorloë in Oekraiëne en die Midde-Ooste (die Israel-Hamas-oorlog), Sudan, ensovoorts.
“Is hierdie militaristiese terme nog nodig? Is die evangelie op sy eie nie genoeg nie? Met Paasfees wat so pas verby is, is dit ’n bevrydende sekerheid om die finaliteit van Christus se offer aan die kruis te vier. Dit was genoeg; dis afgehandel.
“Tweedens is migrasie ook ’n belangrike faktor. Alhoewel dit nie iets nuuts is nie, moet ons daarop let hoe menslike beweging plaasvind. As gevolg van kolonialisme, slawehandel, sendingwerk, ensovoorts, was daar die afgelope driehonderd jaar groot strome van migrasie tussen Europa en Afrika. Vandag migreer mense vinniger en in alle rigtings oor die wêreld heen. Dit speel af op baie terreine, soos ons kinders wat oral in die wêreld gaan werk; migrasie is dus ’n hedendaagse werklikheid.
“Dr Kwinyani wys ons daarop dat God mense in beweging bring en dat die kerk dit as sy taak moet verstaan om die Goeie Nuus vanuit Afrika na die sekulêre noordelike halfrond te bring. God gebruik gelowiges in migrasie om die Lig na ander dele van die wêreld te bring.
“Hy haal interessante statistieke aan: Op ’n Sondagoggend woon tussen 16 en 18% van die Londen-bevolking ’n kerkdiens by. Van daardie persentasie is 65% vanuit kerke in Afrika.
“In vergelyking met die deursnee Engelse bevolking het hierdie immigrante wat kerk bywoon, gewoonlik ’n baie dieper begrip van kerkwees en verbintenis met hul kerke; hulle bring ook nuwe energie na die geloofsgemeenskappe.”
Watter ander onderwerpe van bespreking was daar tydens die konferensie, Nico?
“Een van die interessantste onderwerpe wat bespreek is, was oor hoe die gelyktydigheid van sendingwerk uitspeel – waarvan in Handelinge 1:8 gepraat word. Met ander woorde, sending vind nie eers hier en dan daar plaas nie, maar oral tegelykertyd.
“Hierdie opdrag van Jesus oor dissipelmaking is iets waarby ons as sy navolgers moet aansluit. As you go, you make disciples … met ander woorde, maak dissipels terwýl jy op pad is. Dis asof ons dit in vandag se tyd in fases wil doen. Doen dit daar waar jy is; dis ’n konstante proses.
“’n Ander belangrike punt van bespreking was dat ons ook anderkant ons eie verdelingsgroepe, naamlik tribalism of etnosentrisme, moet beweeg. In Afrika werk ons baie met verdelings onder mekaar, spesifiek ten opsigte van etnisiteit en stamme wat ons verdeel en ons met mekaar laat baklei.
“As ons dus ’n getuienis in die wêreld wil wees, moet ons een wees, soos waarvan daar in die evangelie van Johannes geskryf word.
“Nog ’n tema wat dr Kwinyani aangeraak het, is hoe die Afrika-kerke baie in die afgelope vyftig jaar gegroei het en tot hul eie selfstandige reg begin kom het. Hierdie kerke het almal die roeping om missionaal te wees.
“Ten opsigte hiervan het hy die wêreldbekende missioloog, wyle prof Dawid Bosch (UNISA) aangehaal: “The Church is missional by nature.” Die Kerk is inherent missionaal geöriënteer vir hierdie wêreld.
“As ons na die volgende fase kyk wat ons vanaf 2030 sal begin ingaan, sal die wêreld toenemend na Afrika begin kyk; dis waar ons betrokkenheid op hierdie kontinent van groot belang is en waar ons as NG Kerk ’n onontbeerlike rol het om te speel.
“Ons is deel van hierdie ekumeniese liggaam en word as deel daarvan aanvaar; nie as buitestaanders nie, maar as gelowiges wat deel is van hierdie kontinent. Ons het ’n plek en ’n rol om te speel.
“Dr Kwinyani het ook ’n sterk oproep gemaak dat ons onsself ernstig moet afvra hoe ons onder mekaar onder leiding van die Heilige Gees leef. As Christene ervaar ons baie uitdagings; ons leef in ’n wêreld van rassisme, etnisiteit, rusie oor grense heen, ekonomiese ongelykheid, toenemende armoede en ontheemding.
“Hy het afgesluit deur te praat oor African cultural sensibilities. In Afrika moet ons die belangrikheid van menswaardigheid verstaan.
“Dit beteken dat ons op ’n ander manier as driehonderd jaar gelede die wêreld moet ingaan; die ‘donkerte’ van Afrika waarvan Stanley skryf, het ook waarde gehad. Afrika se verstaan van God was toe ook belangrik, maar is nie ondersoek of erken nie.
“Ons is nie daar om nou kolonies te vorm nie, maar moet tussen ander mense gaan woon en werk waar ons ons getuienistaak moet uitleef en waar almal se menswaardigheid erken moet word.
“Ons Afrika-mense is by uitstek gemeenskapsmense; ons kuier graag. Dis in ons DNS; iets waaraan die Westerse wêreld grotendeels arm geword het.
“Ons moet uitgaan met nederigheid; nie met ’n beterweterigheid van: ‘ons kom om vir julle te kom leer’ nie, maar met ’n nederige ingesteldheid om met ons lewe van die Lig te getuig.”
Daar was ook akademiese voordragte. Vertel asseblief meer daarvan.
“Ná die aanbieding van dr Kwinyani het teologiese akademici vanoor die hele Afrika voordragte oor verskeie onderwerpe gelewer. As konferensieganger kon jy kies watter kategorie van onderwerpe jy wil bywoon. Daar was uursessies van tien minute elk waarby jy kon insit.
“Van die interessantste onderwerpe was Persecution, perserverence and the mission of the Church in Hebrews wat gehandel het oor die Bybelse fundering van gebeure.
“Wat die kategorie oor teologiese onderrig in Afrika betref, was die onderwerp Evaluation of church planting as a tool for expanding mission work in urban centres, asook die Missional praxis: Rethinking urban mission: reconsidering strategic cell fellowships as tools to make disciples in unreached Sub-Saharan urban dwellers, baie interessant.
“Nog ’n onderwerp van belang was die een oor Missions in African context: Engaging the next generation in the mission of God, waar daar sterk gefokus is op die jeug en die jeug se betrokkenheid in die kerk.”
Tydens hierdie sessies het dr Mostert ook ’n voordrag gelewer. Syne het gehandel oor multikulturele gemeentes. Die fokus van sy navorsing gaan oor hoe ons na hierdie gemeentes kyk en hoe ons dit bestudeer. Hy werk baie sterk met sosiale teorie wat in die veld van die sosiologie lê.
Multi-kulturele gemeentes in Afrika bly ’n groot probleem, juis omdat ons so vasgevang sit in ons groeperings, etnisiteit en tale; dit veroorsaak dat ons baie moeilik oor ons grense heen beweeg.
Nico, wat sou jy sê was die waarde van hierdie konferensie?
“Dit was twee baie sinvolle dae. Om saam met die evangeliese wêreld te besin oor die Christendom in Afrika met die oog op die toekoms was ’n eye opener. Dit het my gehelp om te verstaan wat besig is om in die res van Afrika te gebeur as ons oor sending dink.
“Hierdie konferensie het aan my baie hoop vir die toekoms gegee – dat mense weer begin dink oor sending, maar op ’n nuwe manier; dat daar ’n groot uitvloei van mense uit Afrika na die res van die wêreld is en dat elke Christen wat uitbeweeg ’n sendeling of getuie is van hierdie wonderlike boodskap van die evangelie.
“Dit was vir my bemoedigend om te verstaan dat ons deel is van hierdie groter gebeurtenis wat op ons kontinent plaasvind.
“Om deel te kan wees van die ekumeniese gesprekke in Afrika is van kardinale belang vir ons NG Kerk hier in Suid-Afrika. Dit gaan ons niks baat om ’n na-binne-gekeerde kerk te wees nie. Ons kan maklik in ons eie gesprekke en debatte verval sodat ons vergeet dat ons deel is van ’n groter kontinent.
“Die gesprek tussen die hoofstroom- en evangeliese kerke is van kardinale belang as ons van die wêreld ’n beter plek wil maak om in te woon; ’n plek waar die Lig van Christus diep betekenis aan mense se lewens kan gee.
“Ons wêreld is besig om gedurig te verander. Die grootste groei van die kerk lê nie soseer in ons tradisionele strominge nie, maar baie sterk in die evangeliese of charismaties-pentakostalistiese strominge in Afrika.
“Ons het uitmuntende teoloë in Afrika; dit gee my baie hoop. Hulle skryf besonder goeie tekste wat ’n nuwe en vars dinamika na die kerk bring.
“Ons woon beslis nie meer op ’n ‘donker kontinent’ nie, maar het nou die kontinent van die Lig geword. Ons het die Lig van Christus ontvang en ons werk daarmee in ons toekoms in. Wat ’n voorreg!”
Al die temas en akademiese voorleggings wat tydens die konferensie bespreek is, sal later in ’n boek opgeneem en as deel van ’n reeks gepubliseer word. Langham Publishing is ’n vennoot van ASET wat dit jaarliks moontlik maak.
Kontak
Dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za vir meer inligting.
| verskaf: Deur dr Daniël de Wet (Getuienisaksie, Wes-Kaapland)
| verskaf: Dr Harvey Kwiyani
| verskaf: ASET-konferensie te Nairobi op 8 Maart 2024