Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Aangaande Opoffering: Om met God te Onderhandel vir ’n Toekoms

Onlangs in ’n klas lees ek saam met ’n groep studente Psalm 50 met die oog daarop om prakties ’n preek daarvan te maak. Ek het nog nie voorheen ’n preek uit Psalm 50 gehoor of self gepreek nie, wat altyd ’n interessante ervaring van ontdekking is. In ons nabye lees van die teks, was dit merkwaardig hoe ongewoon hierdie Psalm was. Die teks gaan oor offers. En die mense van God word genoem “hulle wat by die offers my verbond hernu” (Psalm 50:5b).

Anders as Israel, is offers vir Christene as ritueel vreemd. Daar is bloot nie so ’n ding soos om lewende hawe kerk toe te bring en te offer voor God nie. En tog is dit nie heeltemal vreemd nie. Offers in die vorm van lewende hawe het histories belangrike simboliese betekenis. Wanneer jy jou bul neem na die tempel om geoffer te word, offer jy jou arbeid, tyd en hulpbronne wat in daardie bul ingegaan het, op. Die dier kon ook jou familie gevoer het, indien nodig. Al hierdie dinge word opgeoffer. Maar hoekom? Om bloot aan die wet te voldoen – sekerlik. Maar daar is ’n dieper belang hier, om met God te onderhandel vir ’n beter toekoms. En dan is daar ook ’n gemeenskaplike aspek aan offers, want terwyl die bloed en vet van die dier aan God geoffer was, was die eetbare vleis tussen die gemeenskap gedeel in ’n feesmaal.

Om die offer te bring was dus om met beide God en mens in goeie verhouding te staan deur op te offer wat jy tot jou beskikking het – tyd, hulpbronne en arbeid. En indien jy met God en mens in goeie verhouding staan, dan kon jy die toekoms ingaan met die wete dat God en mens mees waarskynlik jou goedgesind gaan wees (al is dit ook moontlik om ’n goeie offer te bring en tragedie in toekoms te ontmoet). Hierdie opoffering van tyd, hulpbronne en arbeid is die spel wat ons in ’n eerbare samelewing ook speel, sodat deur ons lewens so op te offer, ons kan onderhandel vir ’n toekoms met God en ons medemens.

Maar alles wat Psalm 50 wil sê, het ek nog nie genoem nie. Want daar is twee opofferings waarmee God nie gelukkig is nie. Die eerste is die brandoffer sonder dank (verse 7-15). Hier blyk dit dat God nie opoffering wat gelyk is aan godsdienstigheid sonder waardering soek nie. “[J]ou brandoffers is altyd voor My” (vers 7) sê God, gevolg deur retoriese vrae wat hierdie godsdienstigheid verwerp as legitiem. Eerder, “Offer dank aan God” (vers 14). Dis iets soos, ja, jy offer jou tyd, hulpbronne en arbeid op, maar jou hart is nie in dit nie. Jy doen jou werk, maar jy haat dit en ander werk is skaars. Jy spandeer tyd met familie, maar jy wil eintlik op ’n ander plek wees. Jy neem deel in jou gemeenskap, maar droom eintlik dat alles verval en tot niet gaan.

Dan is daar ’n tweede opoffering wat God verwerp. Maar dit is eintlik nie enigsins opoffering nie – eerder die afwesigheid van opoffering. As opoffering is om met God en mens te onderhandel vir die moontlikheid van ’n goeie toekoms, dan is die afwesigheid van opoffering selfs erger as die brandoffer sonder dank. Psalm 50 noem hierdie afwesigheid van opoffering goddeloosheid (vers 16). Dit is iets soos om vir jouself ’n toekoms te beraam en te bou deur almal en alles te verneuk, selfs God. Skynheiligheid, diefstal, en leuens oor ander en die self (mees waarskynlik om ander se reputasie af te breek en jou eie op te bou) is veral interessante eienskappe van die goddelose (verse 16-22). Uiteraard kan jy jouself indink dat die onderhandeling met die toekoms op hierdie punt daarop neerkom dat jy nie jou tyd, hulpbronne en arbeid aanwend om saam met jou medemens te werk nie. Jy trek bloot voordeel uit die godsdienstige tradisie en blyk meer godsdienstig te wees as enige iemand. Jou verneuk is besigheid om jouself finansieel op te stel vir ’n goeie toekoms. En jy verkondig ’n identiteit van jouself en ander wat jou posisioneer op ’n voordelige plek in die samelewing.

Voordat ek by die dankoffer kom, wat uiteraard die opoffering is wat aanneemlik is vir God, laat ek tog ook noem dat niemand bo die versoekings van hierdie twee moontlikhede staan nie. Die potensiaal van ons as mense is beide die potensiaal vir die goeie en die slegte. Ek sien in myself die potensiaal om my opofferings van tyd, hulpbronne en arbeid net so sleg aan te wend as hierdie twee moontlikhede wat God verwerp en jy behoort dit ook te kan sien aangaande jouself.

En dan hoor ons die goeie nuus: “Wie dankoffers bring, eer My en wie ’n weg baan – Ek sal hom God se verlossing laat ervaar” (vers 23). Die aanvaarbare opoffering voor God is dankoffers. Dalk is dit om jou tyd, hulpbronne en arbeid met waardering op te offer. Dalk is dit om dankbaar te wees vir dit wat jou lewe vul: Jou familie, jou geleenthede, jou tradisie, jou samelewing. Die woorde “wie ’n weg baan” is ook interessant. Daar is ’n voetnota in die 2020-vertaling dat die vertalers onseker is oor die betekenis. In die Engelse vertaling staan daar “He who sacrifices thank offerings honors me, and he prepares the way so that I may show him the salvation of God” (NIV). Dalk is die betekenis onduidelik, of dalk is die dankoffer juis die daad wat die weg baan na God se verlossing. Vanuit dankbaarheid vloei verlossing. Vanuit die korrekte opoffering vloei ’n toekoms. Vanuit waardering vloei geleenthede van lewe.

Baie gesprekke wat ek deesdae hoor oor die toekoms is gelaai met onsekerheid en pessimisme. Oplossings vir hierdie ellendige toekoms is gewoonlik gerig op stelsel-veranderings wat polities, ekonomies en selfs kerklik is. Daar is inderdaad waarde in hierdie voorstelle. Maar dalk is dit juis in die idee van waardering vir, onder andere, die lewe, die geleenthede op jou pad en die mense om jou, dat ons opofferings van tyd, hulpbronne, en arbeid die weg baan na ’n toekoms wat verwoord kan word as God se verlossing eerder as totale vernietiging.

116 | Maatskaplike NOODLYN