Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

9/11: ’n Kwarteeu later

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Verlede Vrydag was dit die 25ste herdenking van die 11 September‑terreuraanvalle op die World Trade Centre in New York. Moslem‑Amerikaners het saam met die res van die land die trauma en vrees beleef, maar moes boonop die las dra van verdagmaking en wantroue. ’n Kwarteeu later sien baie Amerikaners steeds Islam deur die lens van 9/11.

Volgens nuwe data van die Pew Research Center[1] het Amerikaners se siening van Islam meer negatief geword as kort ná die aanvalle:

  • In 2002 het 25% gesê Islam moedig geweld meer aan as ander godsdienste.
  • Vandag het die persentasie tot 51% toegeneem.
  • Die syfer was die afgelope dekade konstant tussen 45% en 52%.

Daar is nie net ’n politieke polarisasie in die algemeen in die VSA oor Islam se vermeende betrokkenheid by geweld nie. Die sienings oor Islam het ook meer partypolitiek-spesifiek geword:

  • 76% van Republikeine sê Islam moedig geweld aan.
  • 29% van Demokrate deel hierdie mening.
  • In 2002 was die gaping baie kleiner (32% vs. 23%). Dit is deels omdat president George W. Bush Islam destyds as ’n “godsdiens van vrede” beskryf het.

Moslems in Amerika vandag

Moslems vorm ’n groeiende deel van die Amerikaanse bevolking. Ongeveer 5.5 miljoen Moslems woon tans in die VSA, teenoor 2.4 miljoen in 2007. Hulle getalle het dus in minder as twintig jaar meer as verdubbel.

Daar is egter ook ’n groeiende wantroue by die Amerikaanse bevolking teenoor Moslems. 43% van Amerikaners is die mening toegedaan dat Moslems minder patrioties is as die res van die bevolking. Volgens die bogemelde studie van die Pew  Research Centre ervaar 42% van die Amerikaanse bevolking dat Moslems ’n negatiewe invloed op die land het. Baie verwys steeds na 9/11 as rede vir hul wantroue.

Hierdie Pew studie het ook haatmisdade onder die loep geneem. Die FBI se syfers wys:

  • Haatmisdade teen Moslems het in 2001 opgeskiet na 481, teenoor 28 in 2000.
  • Sedertdien wissel dit tussen 95 en 307 (hoogste in 2016).
  • Dit het nooit weer teruggekeer na die lae pre‑9/11 vlakke nie.

Uiteraard sou dié studie ook die ervarings van Moslem‑Amerikaners in berekening bring. Pew se studies (2007, 2011, 2017) toon ’n duidelike patroon: Baie Moslems ervaar diskriminasie. Hulle voel media‑uitbeeldings van Islam is onregverdig. Op ’n positiewe noot ervaar hulle tog ook ondersteuning van vriende en bure.

Direk ná 9/11 het 52% van Moslems in die VSA diskriminasie ervaar. 68% van hulle het in daardie tyd die media as onregverdig beskou. 75% het egter gesê Amerikaners was oor die algemeen respekvol en verdraagsaam.

Vandag sê die meeste Moslems in die VSA daar is baie diskriminasie teenoor hulle en dat die media ’n onregverdige uitbeelding van Islam skep. Tog sê 34% van hulle dat iemand die afgelope jaar ondersteuning aan hulle betoon het juis omdat hulle Moslem is.

Dit is te verstane dat die gebeure van 9/11 ’n dramatiese impak op die Amerikaanse psige gehad het en dat die gemiddelde Amerikaner (ongelukkig) nie ’n duidelike onderskeid kan tref tussen Al-Kaïda, wat vir hierdie tragedie verantwoordelik was, en die gemiddelde Moslem op straat nie. Die kerk kan egter ’n versoenende rol in so ’n situasie speel met inagneming van almal se vrese. Dit is tog net in ’n situasie van respekvolle gesprek dat die evangelie deur woord en daad aan ander verkondig kan word.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting oor so ’n uireik by enrico.casaleggio@absamail.co.za

’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel handel oor Moslems se ervarings in die VSA ná 9/11.